Op die 20ste bestaansjaarvieringe van CHOC-huis is van links prof. David Stones (voormalige hoof van pediatriese onkologie), dr. Mampoi Jonas (pediatriese onkoloog), prof. Jan du Plessis (hoof van pediatriese onkologie aan die Universitas- Akademiese Hospitaal), Linda Strydom (voormalige bestuurder van CHOC-huis) en Sonet van Zyl (bestuurder van CHOC-huis).Foto: Lientjie Mentz


Die 20ste bestaansjaarviering van CHOC-huis is op 23 Augustus gehou by dié Bloemfonteinse tuiste vir kinders wat vir kanker behandeling ontvang.

Prof. Jan du Plessis, hoof van pediatriese onkologie aan die Universitas- Akademiese Hospitaal, sê CHOC bied aan kinders die geleentheid om te leef danksy behandeling wat hulle by die hospitaal ontvang. CHOC bied gratis verblyf vir die kinders wat met kanker gediagnoseer word en na Bloemfontein moet reis vir behandeling.

“CHOC is nie ’n huis nie, maar ’n tuiste vir kinders,” het Du Plessis op die partytjie gesê.

“Dit is wonderlik dat die kinders hier gehuisves word sodat ons meer beddens in die hospitaal het om siek kinders te behandel.”

Prof. David Stones, voormalige hoof van pediatriese onkologie, het op die geselligheid vertel hoe CHOC oor 20 jaar ontwikkel het om te voorsien in die ál groter wordende vraag na verblyf vir kinders wat kankerbehandeling ontvang. Dié liefdadigheidsorganisasie, wat fokus op kinders wat met kanker gediagnoseer is, het die huis in 2004 gekoop nadat ’n individu aanvanklik die huis in Stegmannstraat, Universitas, uit sy sak gekoop het.

Met geld wat CHOC van Lotto ontvang het, is verbeteringe aan die huis aangebring en deur die jare het skenkers se bydrae gehelp dat verbeterings voortdurend aangebring kon word.

Vandag beskik CHOC-huis oor nege kamers, vier badkamers en ’n goed ingerigte kombuis.

Sonet van Zyl, bestuurder van CHOC in die Vrystaat, het gaste en personeel van die hospitaal wat daagliks met die kinders werk, vir hul ondersteuning bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.