Antonie Erasmus voor die huis wat in Bloemspruit gebrand het. Foto’s: Mlungisi Louw


Twee Bloemfonteinse gesinne het erg deurgeloop toe brande groot skade aan hul huise aangerig het.

Sondag (26/06) het die huurhuis van Herman van Vuuren, direkteur van Van der Berg Van Vuuren Prokureurs, in Totiusstraat 44, Langenhovenpark, aan die brand geraak terwyl hy, sy meisie en sy twee kinders elders in die stad by ’n braai-geselligheid was.

Van Vuuren het omstreeks 13:00 ’n oproep van ’n onbekende vrou gekry dat die huis aan die brand is.

Hy en Veronica Struwig en sy kinders, Tuané (15) en Duan (12), wat heeltyds by hul ma in die stad woon, het saam met familie van Veronica in Fichardtpark gebraai en is reeds omstreeks 10:00 soontoe.

“Dis nogal sleg. Veral toe ek so op die N1 ry en die rook sien trek en weet dis my plek . . . dan is ’n ou se hart maar seer,” sê Herman.

Hy sê hulle was gou daar. Die brand was toe al gevorder en die vlamme hoog.

Daar was baie mense en verskeie veiligheidsgroepe. Die brandweer het kort daarna aangekom.

Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brandweer en nooddiens, sê dié diens het net ná 13:00 verskeie oproepe oor die huisbrand gekry.

Met hul aankoms was die brand reeds in ’n gevorderde stadium en ’n deel van die dak het al ineengestort. Lede van die Langenhovenpark-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag was reeds met brandbestryding besig.

  • Die oorsaak van die brand sal in ’n forensiese ondersoek vasgestel word. Antonie Erasmus en Elizabeth Britz se huis in Bloemspruit is op Dinsdag 14 Junie in ’n brand vernietig.

Die huis het afgebrand nadat die kombuis se dak aan die brand geslaan het.

Antonie, wat jare vir die ou Beef Baron gewerk het en herstelwerk doen, het 22 jaar in die huis gewoon.

Al wat oor is van die koskas wat aan sy ouma behoort het, is ’n geraamte.

Al wat hy kon red, is Spottie, hul hond, drie komberse, ’n matras en ’n TV.

Hulle het ’n klag van brandstigting by die polisie ingedien, maar Antonie sê dit kon ook ou kragdrade in die kombuis se dak gewees het.

As Elizabeth nie om 03:00 van ’n geluid in die huis wakker geword het nie, sou hulle doodgebrand het, sê hy.

Die paartjie woon nou in ’n woonwa agter Erasmus se broer se huis in Ehrlichpark in die stad. Daar is nie eens geld om nuwe ID-kaarte te kry nie.

Die kleinhoewe het aan sy suster behoort, maar is verkoop toe sy oorlede is. Die paartjie het toe uitgetrek vir ’n paar weke, maar het kort voor die brand terug getrek nadat die eienaar hulle gevra om terug te trek sodat hulle in sy afwesigheid oor die bouwerk van sy nuwe huis op die hoewe toesig te hou.

Dié paartjie help Saterdae ’n vriendin op die Langenhovenmark met die verkoop van hondejassies.

Hulle het elke keer die R400 wat hulle saam verdien het op die mark, in die huis gebêre en ook dit is deur die vlamme verswelg.

You need to be Logged In to leave a comment.