Grey-kollege (sekondêr) was onoorwonne in die rugby, en die Hoërskool Sentraal se eerste seunshokkiespan die wenner, in die Wildeklawer-skolebyeenkoms wat die naweek in Kimberley beslis is.
Die toernooi het van 23 April tot 3 Mei geduur, en meer as 35 000 besoekers van 120 skole oor die land heen het die toernooi in Kimberley bygewoon.
In die Wildeklawer-toernooi, wat een van die grootste skolesportbyeenkomste in die wêreld is, word nie net rugby gespeel nie, maar ook sokker, netbal en hokkie.
Meer as 4 500 leerlinge het in dié sportsoorte hul staal kom wys.
Skole word op grond van die prestasie van hul vorige sportjaar deur die organiseerders genooi, dus ding van die topskole in die land hier mee.
Die laerskole het van 23 tot 27 April in rugby en netbal meegeding.
Van 27 tot 30 April is agt uitnodigingspanne van die Noord-Kaap genooi om sake in rugby en sokker uit te spook.
Tydens die laaste deel van die toernooi, van 30 April tot 3 Mei, het hoërskole in rugby, netbal, hokkie en sokker meegeding.
Sentraal se hokkieseuns het in hul uitspeelwedstryde St Patrick’s CBC met 2 – 0 geklop, en Jeandré Adendorff was die speler van die wedstryd. Die span het teen Kimberley Boys’ High met 2 – 1 gewen, en Willem van Staden was die speler van dié wedstryd.
In die halfeindstryd het Sentraal die span van die Hoërskool Fichardtpark met 2 – 1 geklop, met Christiaan van Aardt wat die speler van die wedstryd was. Die span het in die eindstryd teen die Hoërskool Noord-Kaap te staan gekom, en in die laaste agt sekondes met ‘n uitspeelspel geklop. Die speler van die wedstryd was Neil Möller. Die doelwagter wat hom so goed van sy taak gekwyt het, was Christiaan van Aard.
Die Hoër Meisieskool Oranje was vyfde in netbal in die toernooi.
In sokker het die span van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Louis Botha in die halfeindstryd vasgeval.
Sentraal se meisiehokkiespan was algeheel vyfde in die toernooi.