Die kwartaallikse Rhapsody in Bloem-konsertreeks is in 2015 ingestel om ’n verhoog vir talentvolle studente- en amateurmusici, leerlinge, en af en toe ook professionele musici, te bied.
Die kaartjie-inkomste uit die konserte word gebruik vir ’n studiebeurs aan ’n wenner wat een keer per jaar in ’n kompetisie aangewys word.
Die pianis Petro Engelbrecht het Rhapsody in Bloem gestig met die planetarium op Naval Hill as konsertlokaal.
Sy verduidelik die volgende konsert so: “Ons bied vyf konserte per jaar aan, waarvan een deur professionele musici is wat bereid is om sonder betaling op te tree.”
Hans Potgieter (klavier), Francois Henkins (viool) en Tilla Henkins (tjello) is die professionele musici wat Vrydag in die Naval Hill-konsertlokaal te sien is.
Hulle speel musiek uit verskillende genres, wat werke van Gershwin, Arensky en Piazzolla insluit, en aan die ligter kant, musiek van die Beatles en Simon and Garfunkel.
Die uitvoering vind op Vrydag 23 Februarie om 19:00 plaas. Die kaartjies kos R80. Bespreek by Petro deur haar by 082-824-5507 te skakel.
Een leser staan die kans om twee kaartjies te wen. Besoek Bloemnuus se Facebook-blad, gaan na die inskrywing oor die Rhapsody in Bloem en skryf in “comments” Rhapsody in Bloem. Een wenner sal Vrydagoggend aangewys word en op Facebook Messenger ’n boodskap ontvang.