Die reën het die laaste sê gehad ná maande se beplanning, opwinding en uitsien na Carols with the Stars.
Met die reën wat die hele week weggebly het, het dit kort voor die begin van die vertoning met die Drakensberg-seunskoor en Ruan Josh Vrydag (04/11) bui ná bui oor Bloemfontein uitgesak, waar die Carols by die Laerskool Willem Postma aangebied sou word.
Die goeie nuus is dat die trekking vir die twee Renault Kwids, geborg deur Pick n Pay Prellar Walk en Pick n Pay Reizis Square, steeds voortgaan.
’n Trekking sal Maandag saam met die ouditeure plaasvind en die mense wat hul name op die inkopiestrokies in die twee houers voor die twee winkels gegooi het, sal in aanmerking kom vir die kompetisie.
Tien name sal getrek word – vyf vir PnP Preller Walk en vyf vir PnP Reizis Square en die finaliste sal dan gekontak word om die aand 18:00 aan die finale trekking deel te neem.
Elk van die vyf finaliste van elke winkel sal ’n motorsleutel trek en die een wie se sleutel die deur oopsluit, wen ’n splinternuwe Renault Kwid.
Hou Bloemnuus, die Laerskool Willem Postma en Radio Rosestad se Facebookblaaie Maandagaand dop vir ’n lewendige uitsending van die trekking en om te sien wie die twee gelukkige wenners is.
Blikkieskos, nie-bederfbare kos, kos vir troeteldiere vir die DBV en ander skenkings kan steeds hierdie week by PnP Preller Walk en PnP Reizis Square afgegee word wat dan aan liefdadigheidsorganisasies geskenk sal word.