By die twee nuwe Renault Kwid-motors wat as deel van Carols with the Stars met Pick n Pay Preller Walk en Pick n Pay Reizis Square gewen kan word, is van links Clinton Pentz (PnP Preller Walk), Jaco Kotzé (hoof van die Laerskool Willem Postma), Duncan Pentz (mede-eienaar van PnP Preller Walk/Reizis Square), Selma Rossouw (Radio Rosestad), Paul Müller (Sentraal24/Bloemnuus), Ralie Burhman (Renauld), John Pentz (PnP Reizis Square), Jeannine van Zyl (hoofbestuurder van Sentraal24) en Johan Gunter (projek-koördineerder van Radio Rosestad). Foto: Lientjie Mentz


Die Drakensberg-seunskoor en Ruan Josh gaan die gehoor vanjaar op Vrydag 4 November op Carols with the Stars met pragtige musiek en Kersliedjies bekoor.

Die geleentheid word vanjaar moontlik gemaak deur Pick n Pay Preller Walk, sowel as Pick n Pay Reizis Square.

Bloemnuus, Radio Rosestad en die Laerskool Willem Postma vat weer vanjaar hande met die twee kruidenierswinkelsPnP Preller Walk/Reizis om van dié geleentheid een van die hoogte­punte in die jaar te maak.

Benewens pragtige musiek op die geleentheid, wat om 18:00 by Willem Postma begin, staan twee inkopie­gangers van dié kruideniers­winkels, onder­skeidelik, elk die kans om ’n splinternuwe 2022 Renault Kwid te wen. Die motors, asook die houers waarin inkopiegangers hul inkopiestrokies kan gooi om vir die kompetisie in aanmerking te kom, is van vandag (18/08) af by die twee sentrums beskikbaar.

Duncan Pentz (mede-eienaar van altwee winkels) sê dit is ’n groot voorreg om weer betrokke te wees by die jaarlikse Carols with the Stars.

“So kan ons vir God al die eer gee en ons klante vir hul volgehoue ondersteuning bedank.”

Soos in die verlede moet inkopiegangers hul naam en van, ID-nommer en selfoonnommer agterop die inkopiestrokie van artikels wat hul by een van die twee winkels gekoop het, skryf en dit in die houers by die Renault Kwid gooi. Die inligting sal slegs vir die trekking gebruik word.

Vyf name vir elke winkel sal op 4 November ná die vertoning getrek word. en hDié mense sal dan die geleentheid kry om te probeer om ’n Renault Kwid oop te sluit – as die sleutel pas, wen hulle die motor. Twee wenners sal dus dié aand elk ’n spoggerige motor hul eie kan noem.

Soos gewoonlik word blikkieskos vir toegang na die konsert gevra. Bring sommer ’n sak vol en deel iets uit jou spens met behoeftiges.

Teken nou die datum aan en hou Bloemnuus, Bloemnuusse blad op Netwerk24 en Bloemnuus se Facebook-blad dop vir meer inligting oor dié Carols with the Stars.

You need to be Logged In to leave a comment.