Twee sale in die Universitas- Akademiese Hospitaal is gesluit weens onveilige toestande. Credit: Teboho Setena

Twee sale in die Universitas- Akademiese Hospitaal is gister deur die departement van arbeid besoek en is vandag gesluit ná klagtes.

Armand Cloete VF Plus-wetgewerlid en woordvoerder oor gesondheid, sê dit het onder sy aandag gekom dat die Vrystaatse departement van arbeid twee sale van die Universitas-hospitaal gesluit het ná klagtes van onhigiëniese en onveilige toestande.

Hy sê die VF Plus het dadelik die Vrystaatse LUR vir gesondheid, Viceroy Mahlatsi, gevra om dringend stappe te neem om die twee sale weer operasioneel te kry.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement gesondheid sê die personeel van die departement van gesondheid was gister om 17:00 by die hospitaal by sale 10 A en B. Hy sê daar word nou gekyk na dringende herstelwerk aan waterlekplekke en die nooduitgang wat gesluit is. Hy sê egter daar is steeds pasiënte in die sale en dat die sale nie gesluit is soos beweer word nie.

Lynsie Pelser van die vakverbond PSA sê sy weet die sale is vanoggend gesluit. “Die toestand in die sale is onveilig. Van ons vakbondlede het verlede week in die sale gegly nadat die hospitaal vroeër oor die waterlekke ingelig is,” sê sy. “Ons het geen keuse gehad as om die departement van arbeid te laat inroep nie,” sê Pelser.

In ‘n nuusverklaring sê die PSA dié pediatriese sale het geen lugversorging nie. Die toestande is ondraaglik warm in die somer en uiters koud in die winter, wat groot risiko’s vir pasiënte en personeel inhou.

Pelser sê die agteruitgang was die afgelope weke nog erger met waterlekplekke, wat gevaarlik is.

Sy sê die hospitaal het nie lugversorging van die vierde verdieping af hoër op nie.

Cloete sê in die skrywe herinner die VF Plus Mahlatsi daaraan dat dit ontoelaatbaar is dat sy departement wetgewing verontagsaam terwyl die regering van alle sektore verwag om dit na te kom.

“Dit is alombekend dat staatshospitale in die Vrystaat in ʼn haglike toestand is en dit terwyl die ANC-regering voortbeur met die nasionale gesondheidsversekering (NGV) wat dit net gaan vererger,” het hy vanoggend in ‘n nuusverklaring gesê.

Cloete sê die optrede van die departement van arbeid bevestig die VF Plus se standpunt dat basiese gesondheidsbestuur eerder die oplossing is vir gesondheidsorg in die Vrystaat. Die NGV is duidelik nie die antwoord vir ‘n mislukte gesondheidsorgstelsel wat onder die ANC-regering veroorsaak is nie

You need to be Logged In to leave a comment.