Twee verdagtes môre in Bloemfontein-hof vir vergiftiging van honde en steel van motorfietse

Tiaan Snyman van Senforce op die toneel in Kommandant Erweestraat waar die eerste verdagte gisteroggend in hegtenis geneem is.Foto: Lientjie Mentz


Die twee verdagtes wat glo verbind kan word met die diefstal van motorfietse en die vergiftiging van honde in Bloemfontein, sal môre in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Die verdagtes, 44 en 39 jaar oud, is gedurende ‘n groot aksie deur private veiligheidsondernemings vasgetrek.

Tiaan Snyman van Senforce op die toneel in Kommandant Erweestraat waar die eerste verdagte gisteroggend in hegtenis geneem is.Foto: Lientjie Mentz

BloemNuus het vroeër vanoggend op News24  Kliek hier berig  oor die aanloop tot die in hegtenisnemings.

Die eerste verdagte is Dinsdagoggend kort voor 01:00 in Kommandant Erweestraat in Wilgehof in hegtenis geneem.

Hierdie inhegtenisneming is te danke aan Tiaan Snyman van Senforce, wat vroeër vanjaar vir sy bydrae tot die bekamping van misdaad in die De FleurSig-woonbuurtvereniging erken is. Die aanhouding volg na ‘n reeks van vyf motorfietse wat die afgelope maand in woonbuurte soos Wilgehof, Universitas en Gardeniapark gesteel is. Tragies is sowat agt honde ook dood nadat hulle glo deur die verdagtes vergiftig is.

Die tweede verdagte is vanoggend om 01:20 aangekeer deur personeel van Senforce, Tracker, en die Fichardtpark-woonbuurtvereniging (FWA), saam met lede van die polisie se blitspatrollie, nadat hulle inligting opgevolg het. Jeandré Swarts van Senforce het bevestig dat twee gesteelde motorfietse op die toneel gevind is: een in Ryno Kriellaan in Universitas en een in Walter Sisuluweg in Wilgehof. Hy het bygevoeg dat video-opnames en die klere van die tweede verdagte hom met die misdaad verbind.

Ricus Slabbert van Bloemsec het gesê dat veiligheidsondernemings in die stad die afgelope maand hard gewerk het om die misdadigers aan te keer. “Ons het op sekuriteitskameras gesien hoe hulle te werk gaan. Hulle kry toegang tot die eiendom deur slotte oop te knip en voer vir die honde polonie wat saam met ‘n soort gif fyngemaak is. Hulle wag totdat die honde dood is, voordat hulle teruggaan om die motorfietse te steel,” het Slabbert verduidelik.

Sers. Sinah Mpakane van die polisie het in ‘n verklaring gesê dat die Bloemfontein Voertuigmisdaadondersoekeenheid ook die moontlikheid ondersoek dat die twee verdagtes met ander misdade verbind kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.