Twee verdagtes is vir die grusame moorde op die bejaarde Morrison-egpaar, wat op hul plaas Rietfontein by Glen vermoor is, in Bloemhof in hegtenis geneem.
Christo en Christa Morrison, albei 63, se lyke is op 4 Mei in putte op hul plaas gekry.
Op Vrydag 10 Mei omstreeks 14:00 het die provinsiale eenheid vir ernstige en gewelddadige misdade inligting ontvang oor waar die vermeende verdagtes in die gru-moorde op die bejaarde Morrison egpaar is. Dié egpaar is Vrydag in Bothaville ter ruste gelê.
Die polisie sê in ’n verklaring die span is saam met Welkom se taktiese reaksiespan na ‘n gastehuis in Bloemhof. Twee mans van 39 en 26 jaar oud is in hegtenis geneem. Hulle was In besit van die selfone, wat aan die twee slagoffers behoort.
Die twee sal binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn vir huisroof en die twee moorde op die Morrison-egpaar.
Luitenaat-generaal Baile Motswenyane, provinsiale kommissaris van die Vrystaat het die uitstekende ondersoekwerk geloof.
- Die DA het in ’n verklaring gesê hulle verwelkom die inhegtenisneming en hoop dat die saak tot ’n gepaste skuldigbevinding en vonnis sal lei.