Die mans wat van die moord op Christo en Christa Morrison (albei 73) van die Glen-distrik buite Bloemfontein aangekla word, het Christa glo gedwing om voor die moorde R220 000 na hul bankrekenings oor te plaas.
Die plaaswerkers Mohau William Lebeko (39) en Motlalentoa Lucas Wolf (26) het op Maandag 13 Mei op aanklag van die dubbele moord en roof met verswarende omstandighede voor landdros M. Ndlovu in die hof in Bloemfontein verskyn.
Hulle was geklee in nuwe All Star-tekkies, langbroeke en T-hemde, en het met groot tasse en komberse die hof binnegekom.
Die Morrison-egpaar is op 3 Mei op hul plaas Rietfontein in die Glen-distrik, sowat 25 km noordoos van Bloemfontein, vermoor.
Christa se halfnaakte lyk is in ’n septiese put van 3 m diep gegooi en Christo se lyk in ’n boorgat-put 300 m van hul huis af. Hy is na bewering met ’n skaapskêr vermoor.
Hy het die betrokke oggend lone betaal en luidens die dossier is die motief vir die moorde vermoedelik ’n loongeskil.
Lebeko en Wolf is Vrydag in ’n gastehuis in Bloemhof, Noordwes, in hegtenis geneem. Vermoedelik gesteelde goedere soos selfone en bankkaarte is in hul besit gekry.
Mpho Motloung, vir die staat, het aangevoer die beskuldigdes het Christa glo gedwing om R110 000 na elkeen se bankrekening oor te plaas met die selfone van die egpaar, wat in hul besit gevind is.
Volksblad verneem speurders het die mans Sondag geneem na die plaas, waar hulle glo sekere uitwysings gedoen het.
Die verhoor Maandag is vertraag omdat hulle glo voor ’n landdros sekere skriftelike skulderkennings wou doen.
Geen van die Glen-boeregemeenskap of gesins- of familielede van die egpaar het die hofsaak bygewoon nie.
Petrus Sitho van Stop Plaasmoorde sê hy het Saterdagmiddag vir Melt Morrison, die egpaar se seun, in Sotho op die plaas gaan bid.
Hy het Maandag die hofverrigtinge bygewoon.
“Ek het gebid dat God vir Melt gesond maak en om sy liggaam te bedek met die bloed van Jesus. Ek het vir God gevra om hier te wees vir die boere en hul families,” het hy gesê.
“My hart is jammer vir Melt. Hy was Saterdag steeds in die huis waar sy ouers vermoor is en moet die pyn verwerk. Ek het God gevra om hom hiermee te help.”
Die beskuldigdes word deur Regshulp SA verteenwoordig. Volgens die raad en die staatsaanklaer het hulle geen vorige veroordelings of hangende sake teen hulle nie.
Die saak is tot 20 Mei vir ’n borgtogaansoek uitgestel.