Drie Bloemfonteiners het uitgeblink op dié naweek se Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskapsbyeenkoms wat in die stad aangebied is.
Lynette Fischer het ’n eerste plek verower in die afdeling vir vroue 60 jaar en ouer. Dit is die 11de keer dat sy aan dié byeenkoms deelneem. Op die prysuitdeling en dinee aan die einde van die naweek het sy nasionale kleure ontvang nadat sy in haar ouderdomsgroep oortuigend gewen het.
Twee gr. 2-leerlinge van die stad het ook uitgeblink deur talle atlete uit te stof.
Alyx Cupido van die Eunice Primary School was eerste in die afdeling vir o.9-meisies. Alyx sê sy hou baie van swem en dit is die eerste keer dat sy aan tweekamp deelgeneem het.
In sy afdeling, vir o.9-seuns, het Markus Gutter van Grey-kollege (primêr) gewen. Sy ma, Petro-Mari, sê hy het in gr. 1 saam met die res van die gesin aan tweekamp begin deelneem.
Archie Markgraaff van Suid-Vrystaat Tweekamp, hooforganiseerder van die byeenkoms, sê dit was die grootste byeenkoms van sy soort in dié atletiek-stadion.
“Daar was 3 200 toeskouers, 975 atlete en 90 beamptes op die byeenkoms. Dit was ook die grootste gala wat tot nog toe by die stadion aangebied is en daar was ’n ongelooflike atmosfeer,” sê Markgraaff.