Alle fotograwe, hetsy professioneel of amateur, het net tot Maandag (05/06) om 11:00 om hul inskrywings te stuur vir die Vriende van Franklin se derde jaarlikse kompetisie. Dié kompetisie het op 1 Desember 2022 begin en sluit op 5 Junie.
Foto’s wat in een van die stad se groen ruimtes geneem is, kan ingeskryf word. Voorheen was die kompetisie slegs vir foto’s wat op Naval Hill geneem is, maar nou kan lesers ook foto’s wat byvoorbeeld in die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin, die Sewe Damme-bewarea of die Brandkop-bewarea geneem is, inskryf.
Die kompetisie se afdelings is:
- afdeling 1: wildlewe (voëls uitgesluit);
- afdeling 2: voëls;
- afdeling 3: plantegroei (blomme, plante, bome);
- afdeling 4: landskap; en
- afdeling 5: gemeenskapsaktiwiteite in openbare ruimtes (hardloop, fietsry, speel en so meer).
Inskrywings kos R50 per foto en fotograwe kan soveel foto’s inskryf as wat hulle wil.
Inskryfgeld is ten bate van die Vriende van Franklin, wat ’n dam en voëlkyk-skuiling in die Franklin-reservaat wil laat oprig.
Kry die inskryfvorm vir die kompetisie deur e-pos na friendsoffranklin.bfn@gmail.com te stuur.
Die wenners sal in Julie aangekondig word.Bloemnuusis weer vanjaar een van die borge.
Rig navrae aan Andri Grobbelaar by 083-542-6556.