Groot opwinding heers onder hardlopers oor die Mimosa Mall-marathon, wat op Saterdag 1 Maart deur Bloemfontein se strate gaan plaasvind.
Só sê Jaco Ebertsohn van Bloemfontein Striders ná dié klub se nagwedloop wat op Woensdag 29 Januarie in Langenhovenpark plaasgevind het.
“Die mense is lus vir hardloop,” sê hy.
“Ek het selfs navrae uit ander provinsies gekry. Ek glo die Mimosa Mall-marathon gaan gouer ’n nasionale wedloop word as wat ons beplan het.”
Danksy die personeel van Mimosa Mall, Jaco en die span van Bloemfontein Striders is planne reeds goed op dreef vir die vier wedlope op 1 Maart.
Bykomend tot verlede jaar, toe meer as 1 000 hardlopers en stappers deelgeneem het, is daar vanjaar ook ’n marathon (42 km) wat saam met die halfmarathon (21 km) ’n roete deur die stad sal volg. Daar is ook ’n 5 km- en 10 km-roete.
Die marathon is ’n provinsiale kwalifiseringswedloop vir die Comrades. Dit is ook die laaste geleentheid om te kwalifiseer vir die Twee Oseane-ultramarathon en -halfmarathon, op onderskeidelik 5 en 6 April in Kaapstad.
Die Mimosa Mall-marathon word ten bate van die Louzanne Coetzee-stigting aangebied. Die Paralimpiese medaljewenner van Bloemfontein sê sy is baie opgewonde om by die Mimosa Mall-marathon betrokke te wees.
“Die wedloop bied vanjaar soveel meer as toe dit verlede jaar die eerste keer aangebied is. Dit is regtig lekker om te sien hoe dit groei. Dit is ook wonderlik dat die halfmarathon deel van die Vrystaat-kampioenskap vorm,” sê Coetzee.
“Daar is vanjaar ook meer wedlope, om meer opsies aan hardlopers te bied.”
Aanlyn inskrywing is reeds oop, maar daar sal ook nog geleentheid wees vir deelnemers om hulle op 27 en 28 Februarie in die hoof-atrium in Mimosa Mall in te skryf. Registrasie vind op hierdie twee dae van 14:00 tot 19:00 plaas. Deelnemers aan die 5 km- en 10 km-roete het ook nog ’n heel laaste kans om hulle die oggend voor die wedloop van 05:00 af in te skryf, maar deelnemers aan die halfmarathon en marathon se inskrywing moet teen 28 Februarie afgehandel wees.
Elke deelnemer kry ’n bederfpakkie, asook ’n medalje.
André Rossouw, bemarkingsbestuurder van Mimosa Mall, sê hulle is gereed om die registrasie, asook laat inskrywing, op die twee dae voor die wedloop te hanteer.
Pryse van R32 500 is op die spel. Daar sal ook die gelukstrekkings wees, en atlete en toeskouers sal stalletjies en die fisioterapeute daar kan besoek.
Skryf in deur vandag nog mimosamall.co.za te besoek.