Vanjaar se Carols with the Stars op Vrydag 10 November gaan ’n onvergeetlike aand wees van sang, Kersliedere en die geleentheid om terug te gee.
Reuse-koopbewyse van altesaam R100 000 van Pick n Pay Preller Walk is ook vanjaar op die spel vir drie gelukkige klante.
Die Rhapsody-orkes gaan vanjaar liedjies begelei soos gesing deur Cézanne Yzelle en die driemanskap van Tharo – bestaande uit Mario Lategan, Jacobus Silwer en Thabo Hlongwane.
Die Carols with the Stars vind weer op die sportveld van die Laerskool Willem Postma plaas.
Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van Sentraal24, waarvan Bloemnuus’n publikasie is, sê Pick n Pay Preller Walk se Carols with the Stars is elke jaar ’n hoogtepunt op die kalender.
“Dit is vir ons ’n voorreg om Pick ’n Pay Preller Walk met die projek te ondersteun, aangesien hulle baie terugploeg in Bloemfontein se gemeenskap. Daar is min geleenthede wat soveel mense jaarliks bymekaar bring in die gees van uitreik na mekaar, en ons sien baie daarna uit om weer die aand saam met ons lesers te geniet.”
Toegang is gratis, maar konsertgangers word versoek om nie-bederfbare kos, asook honde- en katkos, te bring. Dit kan by die hek in winkeltrollies geplaas word.
Vanjaar gaan die skenkings aan die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), die Sunflower House-hospice se gemeenskapswerk en Mooihawe geskenk word.
Drie gelukkige klante van Pick n Pay Preller Walk, borg van Carols with the Stars, staan die kans om die aand van 10 November deel te hê aan die wonderlike koopbewyse wat gewen kan word.
Om van vandag af in te skryf en die kans te staan om een van die drie pryse te wen, gooi ’n inkopiestrokie van Pick n Pay Preller Walk in een van die gemerkte houers voor die winkel. Die deelnemer se naam en van, ID-nommer en telefoonnommer moet agterop die inkopiestrokie geskryf wees. Slegs strokies van inkopies van meer as R200 tel vir die kompetisie.
Die eerste prys is ’n koopbewys van Pick n Pay Preller Walk van R50 000; die tweede prys is ’n koopbewys van R30 000; en die derde prys van R20 000 is ook in die vorm van ’n koopbewys. Die wenners word die aand ná die vertoning by Willem Postma aangewys. Wenners moet die aand by die vertoning wees om vir ’n prys in aanmerking te kom.
Bloemnuus en Radio Rosestad is mediaborge van dié gewilde jaarlikse geleentheid wat Bloemfonteiners bymekaarbring.