Die Hoërskool Jim Fouché het Dinsdag (27/09) sy uitblinkers vir die jaar bekend gemaak.
Hulle is:
- Roechelle van der Merwe, beste junior sportster
Roechelle blink uit op verskeie gebiede. Sy verteenwoordig die skool op die hokkieveld, netbalbaan, in kragoptel en as ’n akademiese presteerder.
Sy het ’n silwermedalje in kragoptel verwerf in die Suid-Afrikaanse Klassieke Kragoptelkompetisie wat in Fochville gehou is. Sy het saam met die nasionale span deelgeneem aan die Subjunior en Junior Klassieke Kragoptelkampioenskap in Turkye, waar sy ’n bronsmedalje in haar afdeling, asook ’n brons vir hurksit (“squat”), verower het. Sy is ingesluit in die nasionale span wat in November aan die Statebondspele in Nieu-Seeland gaan deelneem. Sy is ook ingesluit in die span om aan die Afrika Klassieke Kragoptelkampioenskap in Morokko te gaan deelneem, maar sy kon nie gaan nie.
Roechelle is boonop tydens die skool se sport-en kultuurdinee as die beste o.16-netbalspeler aangewys.
- Len-Douglas Mac Kay, beste senior sportster
Len-Douglas is ingesluit in die nasionale mensereddingspan wat nou aan die Wêreldkampioenskappe in Italië deelneem. Hy is ook ingesluit in die nasionale span wat aan die Afrika-spele in Egipte deelgeneem het, waar hy ’n eerste plek in die pypreddingsnommer (“tube rescue”) behaal het.
Hy presteer in menseredding in die swembad en in die oopwaternommers.
Hy is aangewys as die beste o.19-seun tydens die Suid-Afrikaanse klubkampioenskap. Op die Suid-Afrikaanse stilwaterkampioenskap is hy ook as die beste o.19-seun aangewys.
Len-Douglas het drie eerste plekke en vyf tweede plekke tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Swemkampioenskap in Gqeberha behaal.
- Suné Deacon, junior kultuurpresteerder
Sy neem deel aan redenaarskompetisies, debatte asook die kunswedstryd.
Sy het na die streeksuitdunronde van die ATKV-redenaarskompetisie deurgedring, asook die eindronde van die Oppi-Tong-Af-kompetisie. Op die Kunswedstryd verwerf Suné ’n A++-simbool vir kontemporêre dans.
Sy neem ook deel aan die Dink-of-Sink-kompetisie en word daar as die beste taalgebruiker van die kompetisie aangewys.
- Lourens van Niekerk, senior kultuurpresteerder
Lourens is aangewys as een van die 25 toppresteerders in die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Volksblad se Matrikulant van die Jaar-kompetisie.
In 2022 neem hy deel aan die Oppi-Tong-Af-kompetisie. Hy verwerf ’n A++-simbool vir sy oorredingstoespraak en ’n A++ in die Goue Tong-kompetisie. Hy neem ook deel aan die ATKV-tienertoneelkompetisie, waar hy ’n bronsmedalje vir spel verower.