Drie Vrystaatse driekamp-atlete het medaljes huis toe gebring ná ’n moeilike dag op die Suid-Afrikaanse standaard-driekamp-kampioenskapsbyeenkoms wat op 6 April in ’n winderige Gqeberha plaasgevind het.
Deelnemers het 1,5 km in die see geswem, daarna 40 km langs die kus fietsgery en laastens 10 km gehardloop.
Ondanks gure weer, het Adri Vermaas goud gewen in sy afdeling vir mans 60 tot 64 jaar.
Lynette Fischer het goud gewen in die afdeling vir vroue 65 tot 69 jaar.
Alfons van der Vyver het ’n silwermedalje gewen in die afdeling vir mans 45 tot 49 jaar.
Vic de Bruyn het in die Suid-Afrikaanse waterfiets-kampioenskap (“aquabike”) meegeding en het die ouderdomsgroep 50 tot 54 jaar gewen.
Hierdie Vrystaters se podiumplekke en tye behoort hulle te laat kwalifiseer om Suid-Afrika te verteenwoordig op die wêreld-driekampkampioenskapsbyeenkoms in Torremolinos-Andalucia in Spanje, wat van 17 tot 20 Oktober plaasvind.
Die standaard-afstand driekamp is ook die Afrika-driekampproewe vir die Olimpiese Spele.
Die Suid-Afrikaanse Sportkonferedrasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) sal einde Mei aankondig wie Suid-Afrika op die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk gaan verteenwoordig.