Die Gouws-familie van Klerksdorp het skoonskip gemaak in die senior afdelings van vanjaar se Engen Enjin-restourasie-uitdaging wat Vrydag op die Bloem-Familietrekkerfees in Kwaggafontein aangebied is.
Feesgangers kon Vrydag en Saterdag op die fees gaan kyk na die 32 enjings wat kinders en jongmense vanjaar vir dié kompetisie wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs (SAVTEK) aangebied is, uitgestal het.
Die Bloem-Familietrekkerfees is vanjaar vir die eerste keer oor twee dae deur die Sentraal-Vrystaat Veteraantrekker-en-enjinklub (SVVK) aangebied.
Die skoonsussies Liesel en Cherise Gouws van Klerksdorp was die wenners in die afdeling standaard-enjins meestersklas. Liesel het in 2016 in die junior afdeling gewen. Die meesterklas is vir vorige wenners van die kompetisie.
Liesel se broer en Cherise se man, Jannie, was hul mentor.
Die twee het R30 000 prysgeld gewen vir die 1964 Wolseley-enjin wat hulle gerestoureer het.
Jannie, wat nog altyd ’n passie gehad het vir die restourasie van trekkers en enjins, het al twee keer aan die kompetisie deelgeneem. Omdat hy volgende jaar 30 jaar oud word, het hy besluit om nog een laaste keer aan die kompetisie deel te neem.
Hy het ’n Fairbanks-Morse-enjin uit die jaar 1945 gerestoureer en die eerste plek in die afdeling vir standaard-enjins in die senior klas gewen. Hy het prysgeld van R20 000. Jannie het ook die prys gewen vir die beste werkboek.
Met die goeie prysgeld wat die drie saam gewen het, hoop Cherise en Jannie dat hulle volgende jaar na Parys kan reis as Liesel aan die Paralimpiese spele deelneem. Sy neem as paralimpiese atleet deel aan die 200 m en 400 m.
Esmaré Dietrichsen van die Laerskool Clocolan, was die wenner van die juniorklas vir kompakte enjins. Sy het R15 000 gewen. Duan Kymdell (10) van die Laerskool Willem Postma was die wenner in die junior klas vir standaard-enjins. Hy het prysgeld van R20 000 gewen vir die 1959 Wolsley-enjin wat hy gerestoureer het.
Ander Bloemfonteiners wat prysgeld gekry het, is Tiaan Steenkamp (16) van die Hoërskool Fichardtpark wat ’n tweede plek in die junior-afdeling vir kompakte enjins gekry het en Wynand Celliers wat ’n derde prys in die meestersklas vir standaard-enjins gekry het.