Uitdagings stuit nie droom

Hy droom daarvan om eendag ’n swemafrigter te wees – en vir die afgelope 18 maande streef Elih Lawrence (19) sy droom na.


Hy droom daarvan om eendag ’n swemafrigter te wees – en vir die afgelope 18 maande streef Elih Lawrence (19) sy droom na.

Dit is juis in ’n swembad waar Elih se pad veel anders begin loop het as wat sy ouers ooit kon verwag.

As 20 maande oue baba het hy in ’n swembad geval. Sy ma, Michele, en ’n vriendin was oomblikke later op die toneel en het mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas.

“Vreemdelinge het nader gekom om te help, en hom met ’n bakkie hospitaal toe gebring,” sê Michele, ’n omroeper by Radio Rosestad en voormalige Mev. Bloemfontein.

Klein Elih was vier dae lank in ’n geïnduseerde koma en het stuipe gekry toe hy begin wakker word.

Die voorval het sy spraak en geheue ernstig aangetas, en angsversteuring is by hom gediagnoseer.

“Toe hy verlede jaar met tuisonderrig klaarmaak, het ons hom gevra wat hy wil doen,” sê Michele.

Sy antwoord was dadelik dat hy wil swem, en kort daarna het hy hom by die Neptune Aquatics-swemklub aangesluit.

“Dit is fantasties hoe die senior groep swemmers Elih aanvaar het. Hy is baie lief vir mense, en dit is vir hom lekker om ná jare se tuisonderrig weer ’n vriendekring te hê.”

Vir hom is Len-Douglas Mac Kay, wat in swem en menseredding uitblink, ’n rolmodel.

“Elih het in September aan sy eerste gala deelgeneem en sommer gou met ’n sak vol medaljes gesit.”

Hy swem in die S14-groep vir mense met bepaalde gestremdhede.

Op die Vrystaat-kampioenskaps­byeenkoms het hy gekwalifiseer om aan die nasionale byeenkoms deel te neem.

Op dié byeenkoms, wat van 4 tot 6 April in Gqeberha plaasgevind het, kon hy in die S14-groep teen nege ander swemmers meeding.

Hy het ’n bronsmedalje in die 100 m-rugslag behaal, asook talle vierde plekke.

Hy het ook in die 200 m-wisselslag sy persoonlike beste tyd met 20 sekondes verbeter.

Hier het hy ook die geleentheid gehad om swemhelde soos Chad le Clos en Tatjana Schoenmaker te ontmoet.

“Hulle was fantasties. Hulle het Elih ondersteun en hom met sy prestasies gelukgewens.”

Nou oefen Elih kliphard vir die Wintergala wat van 25 tot 27 Junie in Gqeberha plaasvind.

“Hy oefen elke oggend en aand twee uur lank. Hy is so gemotiveerd,” sê Michele.

“Hopelik kan Elih gou sy drome verwesenlik om ’n professionele swemmer te wees en kinders af te rig.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.