Die voormalige hoofregter van Suid-Afrika, regter Mogoeng Mogoeng, het Saterdag op die Time2RiseSA-byeenkoms op Wilde Als buite Bloemfontein gesê hy is oortuig dat God hom geroep het om as president van Suid-Afrika te dien.
Hy sê hy gaan nie ’n politieke party stig of deur politieke prosesse die president word nie, maar deur ’n wonderwerk.
Mogoeng was een van talle sprekers wat op Time2RiseSA van Vrydag tot Sondag opgetree het.
Dr. Arno van Niekerk, stigter van Time2RiseSA en organiseerder van die byeenkoms, het gesê daar was ongeveer 5 000 mense by die byeenkoms toe Mogoeng Saterdagaand gepraat het. “Dit was ’n wonderlike naweek met talle hoogtepunte wat vir ons tot groot seën was.”
Die byeenkoms het Vrydag begin met ’n spesiale seremonie waarop verskillende kulture mekaar se voete gewas het. “Dit was ’n gebaar van genesing van die land en ’n teken dat ons mekaar vergewe vir die verlede,” verduidelik hy.
Meer as 1 000 mense het Saterdag vroeg op die koppie by die feesterrein byeengekom om vir Suid-Afrika te bid.
Debra van der Merwe Brooks van Zeerust in Noordwes was een van die mense wat ver gereis het om die naweek se byeenkoms by te woon. Sy het teenoor twee vroue van Johannesburg, Thulelah Takane en Lebo Pebane getuig oor hoe God haar op haar plaas buite Zeerust beskerm het.
Deur die loop van die middag, het mense in groepe in tente byeen gekom en oor sake soos landbou en onderwys vergader.
Van Niekerk sê Time2RiseSA het reeds ’n banklisensie bekom en die plan is om gemeenskapsbanke waarin mense aandeelhouding het, oor die land heen te vestig.
“Die doel hiermee is om hande te vat om mense se lewensgehalte te verbeter deur ’n grondvlakinisiatief.”
Nog ’n hoogtepunt van die naweek is toe organiseerders die Khoi-koning Johannes Waterboer se voete gewas het en sy hoof gesalf het om hom as lid van Suid-Afrika se eerste nasie te eer.