Slimkoppe wat uitblink in wiskunde is verlede week vereer vir hul harde werk die afgelope jaar.
Die jaarlikste Prestige Wiskunde-prysuitdeling is Dinsdagaand 26 November by die Hoërskool Jim Fouché gehou.
Dit is die hoogtepunt van leerlinge se wiskunde-bedrywighede, veral vir die leerlinge wat deur die jaar in die verskillende wiskunde-olimpiades presteer het.
Die prysuitdeling is vanjaar vir die veertiende keer drs. Elsie Schoombie en Anelize van Biljon gereël.
Schoombie sê die aanbied van hierdie geselligheid is slegs moontlik met die samewerking en ondersteuning van die Universiteit van die Vrystaat se departemente Wiskundige Statistiek en Aktuariële Wetenskap en Rekenaarwetenskap en Informatika, asook die Nautilus Projek.
Daar is verskillende olimpiades op die wiskunde-kalender. Dit wissel van plaaslike en provinsiale olimpiades tot nasionale en internasionale olimpiades.
Een van die mees toeganklike olimpiades vir beginners is die Living Maths Olimpiade, wat jaarliks in November gehou word. Leerlinge van gr. R kan al daaraan deelneem – en dit bied aan hulle ‘n platform om na meer gevorderde olimpiades soos die kwartaallikse Nautilus-olimpiades te vorder.
Die Nautiluskampe is ‘n provinsiale olimpiade wat vir Vrystaatse en Noord-Kaapse leerlinge van gr.3 tot gr.12 in Bloemfontein aangebied word.
Nasionale wiskunde-olimpiades sluit die South African Mathematics Challenge (SAMC) en die South African Mathematics Olympiad (SAMO) in.
Leerlinge neem aan hierdie olimpiades deel in die hoop om gekies te word om ingesluit te word in spanne wat aan internasionale olimpiades deelneem.
Die Primary World Mathematics Contest (PWMC) is weer vanjaar in Hongkong aangebied. Die vier spanlede gekies uit die Vrystaat en Noord-Kaap was Wen-Yu Chang (gr.6, oërskool Ladybrand), Orion Chen (gr.6 Grey-kollege), Carli van der Westhuizen (gr.7 Laer Meisieskool Oranje) en Ayanda Mabe (gr.7 Curro).
Die International Mathematics Competition (IMC) het ‘n afdeling vir juniorspanne, wat uit die laerskool moet kom, en seniorspanne, wat uit leerlinge in gr. 8 tot 10 gekies word. Hierdie olimpiades is elke jaar in ‘n ander land. Dit is hierdie jaar in Lucknow in Indië aangebied. Nasionaal is 16 leerlinge vir die vier junior spanne gekies, sowel as 16 leerlinge vir die vier senior spanne. Die Vrystaat/Noord-Kaap het vier leerlinge in hierdie spanne gehad. Hulle is Lineé Lubbe (gr.9, Hoërskool Jim Fouché), Martin van der Westhuizen (gr.9) en Bang-Ting Chang (gr.8) albei van Grey-kollege en Jenna du Plessis (gr.10, Oranje).
Die prysuitdeling neem ook leerlinge se deelname en prestasies in al die bogenoemde wiskunde-olimpiades in ag. Die top-10 leerlinge per graad van gr. 7 tot 12 word dan bepaal, en hulle word uitgenooi om pryse te ontvang. Benewens die top-10 leerlinge en die top-3 wat dan besonder beloon word met medaljes en geldpryse, word daar ook trofeë toegeken per graad vir die leerlinge wat die beste vordering gedurende die jaar getoon het. Die leerlinge wat oor jare volhard het met volgehoue puik prestasie in die wiskunde-olimpiades, word ook met spesiale trofeë beloon.
Leerlinge en onderwysers wat meer inligting oor die olimpiades wil bekom, kan ’n WhatsApp-boodskap na 082-926-6674 stuur.