By die poppe-uitstalling is van links Vicky Heyns (Oorlogsmuseum), Betsie Roux, Elisabeth de Lange, Marianne le Roux, Delene Bester (almal van die Old Dolls en Toys-groep) en Dané Swanepoel (Oorlogsmuseum). Foto’s: Lientjie Mentz

’n Unieke kompetisie is Vrydag (27/05) en Saterdag by die Oorlogmuseum van die Boererepublieke aangebied.

Lede van Bloemfontein se Dolls and Toys-groep het deelgeneem aan ’n uitstalling genaamd Little Seamstress.

Vir dié kompetisie het 14 deelnemers 24 uitstallings in die museum se nuwe Randall-huis by die museum vertoon.

Een van die deelnemers is van Ladybrand.

Lede van die groep het uitstallings gedoen van speelgoed-naaldwerkartikels soos klein Singer-naaimasjiene, tolletjies gare daarvoor en selfs patrone vir popklere van ouds en vele meer wat by die tema pas.

Die wenner van die kompetisie was Marianne le Roux met ’n uitstalling in ’n antieke houtkassie. Tweede was Teresa Botha en derde Rita Willers.

Dié uitstalling van Marianne le Roux is as die wen-uitstalling aangewys.

Betsie Roux, voorsitter van die groep, sê hierdie is een van talle projekte wat die groep vanjaar gaan aanbied.

Sy sê die beoordelaars het aan elke uitstaller individuele terugvoer gegee.

Doretha Jacobs, een van die beoordelaars, het die groep geluk gewens met ’n uitstalling van hoogstaande inskrywings. “Elke inskrywing was ’n wenner met uitstaande kuns wat met smaak saamgestel is.”

You need to be Logged In to leave a comment.