Groot pret wag vir mense wat lus het vir ’n bietjie familiepret wanneer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) van 13 tot 19 Desember nog ’n digitale eerste aanbied.
Koeël deur die kerk is ’n komedie wat die konsep van ’n familie-geselsgroep op ’n selfoon gebruik om ’n storie oor te dra.
“Ons het aan die begin van die jaar belowe die KKNK is oraloor en soos die slagspreuk sê, bring die fees met die opwindende inisiatief ook teater in ’n unieke vorm na gehore,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van KKNK.
Hierdie familiedrama speel oor ’n tydperk van sewe dae af, soos wat dinge ontvou.
“Kykers het die geleentheid om ’n vlieg teen die muur van ’n familie-groepie te wees in die aanloop tot en ná ’n troue. Al die alombekende klets app-elemente word in die storie gebruik, waaronder teksboodskappe, stemnotas, videos, memes, emojis en meer,” sê Theart.
Nuuskieriges kan al die aksie van dié familiegroep gratis op ’n webgebaseerde app op hul rekenaars of slimfone volg.
Registreer by (https://www.kknk.co.za/koeel-deur-die-kerk/) en volg die aksie om 09:00 op Maandag 13 Desember.
Die karakters word vir ’n week gevolg soos hulle kommunikeer tydens hul reise na en ervarings by die groot trou-week van Ben Oppelt en Jani de Wet.
Llandi Beeslaar het die storielyn geskep en behartig die regie van hierdie familiedrama, met Eldon van der Merwe (Ben, die bruidegom), Greteli Fincham (Jani, die bruid), Esther von Waltsleben (Chrissy, ma van die bruid en eksvrou van Christiaan), Melt Sieberhagen (Christiaan, die pa van die bruid), Ira Blankenberg (Belinda, Christiaan se nuwe vrou), Lee-Ann van Rooi (Deborah, ma van die bruidegom), Charlton George (David, pa van die bruidegom), Cole Wessels (Joey, broer van die bruidegom), June van Merch (Verney, ouma van die bruidegom), Elandré Schwartz (best man) en Lara Hattingh (sussie van die bruid).
“Ons is opgewonde om teater nou ook op hierdie alombekende, dog splinternuwe wyse, aan feesgangers te bied. Wat sorg dan nou vir meer drama as ’n familie-troue? Maak seker jou notifications is aan sodat jy nie een oomblik van die intrige misloop nie,” sê Theart.
- Die KKNK word geborg deur Absa en Koeël deur die kerk word moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) aangebied.