Vroue is kort ná Lentedag, op 3 September, trakteer op ’n oggend vol blomme, sang en mooi kuns.
Die gemeente van Doxa Deo Fichardtpark het lente begin met ’n vroueteeparty wat deur meer as 200 vroue van oor die stad heen bygewoon is.
Op die geleentheid, wat ook die bekendstelling van die Colouful Living-Bybelstudie was, is daar ’n aanbieding oor vroue se gawes gedoen.
’n Besonderse skildery wat tydens die praatjie deur Doret Bonthuys geskilder is, het die verskillende gawes van vroue deur die uitbeelding van blomme saamgevat.
Ook skilderye deur Elriza Huygen, wat vroue en blomme op ’n besonderse manier uitgebeeld het, is uitgestal.
“Dit is belangrik vir ons dat elke vrou die unieke gawe en talent wat die Here vir haar gegee het, voluit sal uitleef,” sê Joharita Roodt, spreker.
Sy het bygevoeg identiteit is een van die groot kwessies waarmee baie vroue stoei.
“Ons weet wat ons identiteit in die Here is, maar dikwels bly dit net kennis en ons kom nie op ’n plek waar ons dit uitleef nie. Dit is dan ook die fokus van die Colourful Living-Bybelstudie: om vroue toe te rus om hul identiteit prakties uit te leef,” sê Roodt.
Die Bybelstudie begin op Dinsdag 27 September, en enige vrou wat belang stel, kan navrae rig deur ’n e-pos na na christie-lee.drinkwater@doxadeo.org te stuur, of skakel 051-110-0153.