Daar is hoop dat die ontevredenheid rondom studentehuise in Universitas en omliggende gebiede binnekort ’n positiewe uitkoms kan hê.
Dit kom ná ’n vergadering wat DA-raadslid Tjaart van der Walt op 25 Januarie met talle belangegroepe by die NG kerk Universitasrif belê het.
“Dit is die meeste belanghebbendes wat ons tot dusver op een vergadering bymekaar kon kry oor die saak,” het Van der Walt ná die tyd gesê.
“Dit was baie positief, want dit lyk of almal wil saamwerk om ’n werkbare oplossing te kry.”
Jakes Jacobs, eienaar van studentehuise wat die vergadering bygewoon het, het voorgestel dat ’n vereniging gestig word waaraan alle eienaars van studentehuise moet behoort.
“Die universiteit en die metro moet net inkoop sodat só ’n organisasie die mag het om teen oortreders op te tree en akkreditasie weg te neem waar reëls oortree word,” het belanghebbendes op die vergadering gesê.
Jacobs sê talle eienaars van studentehuise wil saamwerk om van Universitas ’n goeie en veilige woonbuurt vir alle inwoners te maak.
Frikkie Eisenberg, ondervoorsitter van die Universitas-woonbuurtvereniging (UWV), sê Universitas was eens ’n trotse woonbuurt waar mense in vrede kon bly.
“Ons wil weer op daardie plek kom. Ons streef daarna om ’n rustige, veilige en skoon woonbuurt soos Fichardtpark te wees.”
Die Mangaung-metro het verlede jaar November begin om onwettige studentehuise te besoek en boetes uit te skryf.
George Masuabi, hoofbestuurder van strategiese ondersteuning en beplanning van die metro, het op die vergadering gesê hy glo aan ’n aktiewe gemeenskap.
“Ons moet baklei vir wat ons het.”
Benewens die lawaai en ernstige gesondheidsgevaar wat sommige studentehuise veroorsaak deur vullis wat nie uitgesit word nie en in sommige erwe ophoop, is die oortreding van bouregulasies en munisipale regulasies van die groot probleme.
Masuabi het erken dat daar wel ’n lys is van die onwettige studentehuise in die stad.
Hy sê die metro het sowat ses maande gelede begin om van die huise te besoek en vyf eiendomme is al vasgevat met boetes wat oploop wanneer dit nie betaal word nie.
Quintin Koetaan, senior direkteur van behuising en koshuise aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die grootste uitdaging waarmee die UV sit, is die groot toename in studentegetalle.
“Die UV het onlangs tien nuwe koshuise op sy drie kampusse opgerig, wat 3 000 beddens gevoeg het tot die UV se kapasiteit om studente te huisves,” het hy op die vergadering gesê.
Hy het gesê dit is vir die UV belangrik om nou saam met gemeenskappe en die Mangaung-metro te werk en dat hulle met ’n program begin het om die UV se invloed buite die kampus duideliker te maak.
“Dit is vir ons goed dat die metro teen onwettige studentehuise optree.”
Die idee in hierdie stadium is om dit deel van die studentehuise se akkreditasieproses te maak om vasgestelde lidmaatskapgeld tot ’n vereniging by te dra wat weer in Universitas teruggeploeg kan word.
“Ons dryf hierdie proses nou vir ’n vale,” het Jacobs gesê.
Studente keer binnekort terug vir die nuwe studiejaar en belanghebbendes wil graag teen daardie tyd ’n plan ingestel hê wat tot almal se voordeel sal wees.