Huis Abraham Fischer (Vishuis) wat as Abraham Fischer Boetapele bekend sal staan.Foto: Argief


Vyf koshuise op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV), gaan nuwe name kry.

Tydens die UV-raad se vergadering op 25 November is die naamsveranderinge goedgekeur.

Dit vorm deel van die UV se Institusionele Transformasieplan (ITP) wat sê ’n universiteit in Suid-Afrika moet vernuwe en strewe na maatskaplike regverdigheid in alles wat hy doen.

Die koshuise wat naamsveranderings ondergaan is:

> Huis Abraham Fischer (Vishuis), sal voortaan Abraham Fischer-Boetapele heet. In Sotho beteken Ntlo ya Boetapele huis van leierskap.

> Huis Kiepersol word Imvelo-Yesizwe – die Zoeloe wat beteken om ’n nasie te bou.

> Huis Reitz/Mia Casa se nuwe naam is Toa Mageuzi wat in Swahili beteken streef na vooruitgang/evolusie/transformasie.

> President Steyn wat nou bekend sal staan as !ke e: /xarra //ke-President Steyn wat in !Xam beteken eenheid in diversiteit

> Boomplaas wat nou Intsika-ye-Khayna sal heet. Dit beteken in Xhosa hart/pilaar van die huis.

  • Almal is egter nie tevrede met dié aankondiging nie.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor hoër onderwys, sê Oud-Kovsies is geskok om te hoor dat nog ’n paar koshuise op kampus nuwe name gekry het.

“Dit kom ná ’n vorige vlaag naamsveranderinge wat die nodige welwillendheid moes skep sodat verskillende kulture die kampus in harmonie kan deel.”

Boshoff sê die UV het ná 1994 die een klein verandering ná die ander ondergaan, alles met die oog op transformasie.

Hy sê transformasie in hoëronderwys het tot dusver geen voordeel vir ander inheemse tale ingehou nie.

“Die oorheersende posisie van Engels word ten koste van Afrikaans versterk, met koshuisname as troosprys vir Afrika-tale.”

Prof Francis Petersen, die UV se rektor en vise-kansellier, sê die naamsverandering vorm daal van die UV se naamgewing en hernoembeleid van 2020. Die beleid erken dat die name van die UV se bates ’n harmonieuse balans tussen die UV se oorsprong, sy ryk geskiedenis en erfenis en die demokratiese samelewing waarin dit is, moet dien.

Die komitee sê die hernoem van die koshuise reflekteer die tale wat op die UV-kampus gepraat word soos Engels, Sotho, Afrikaans en Zoeloe, maar ook tale soos Xhosa en Swahili en name uit die Khoisan-erfenis van die Vrystaat en Suid-Afrika.

You need to be Logged In to leave a comment.