UV-span oortref alle sonkraguitdaging verwagtinge

Dit gaan so goed met die span van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat aan die Sasol-sonkraguitdaging deelneem, dat hulle vandag met heelwat meer kilometer as wat hulle beplan het, gaan klaarmaak.


Dit gaan so goed met die span van die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat aan die Sasol-sonkraguitdaging deelneem, dat hulle vandag met heelwat meer kilometer as wat hulle beplan het, gaan klaarmaak.

Dr. Hendrik van Heerden, die spanleier, het vanoggend uit Riversdal gesê dit het regtig baie goed met hul span en hul voertuig, Lengau, gegaan. Die UV het vanjaar die eerste keer aan dié uitdaging deelgeneem.

Nege sonkragvoertuie het Vrydag (09/09) uit Johannesburg vertrek en kom vandag in Kaapstad aan.

Robert Walker, eienaar en direkteur van die uitdaging, sê dit was ’n baie suksesvolle week.

“Dit was opwindend om uiteindelik weer op pad te wees, ná die onderbreking weens Covid-19.”

Dit is vanjaar die 14de keer aangebied nadat die reëlings vir 2020 in die wiele gery is.

Walker sê hulle het gehoop dat meer spanne vanjaar sou deelneem, maar operasionele uitdagings en die tekort aan onderdele het sommige internasionale spanne se planne omvergewerp.

Die spanne kom vanmiddag na berekening so 17:00 by die V&A Waterfront aan.

Van Heerden sê die UV-span het gehoop om so 300 km af te lê, maar as hulle vanmiddag klaarmaak, behoort hulle uiteindelik sowat 500 km te kan aanteken.

“Die waarde van hierdie uitdaging vir die studente is van onskatbare waarde,” het hy gesê. “Ek kon sien hoe hulle as mense ontwikkel en hulle het met goeie oplossings vir probleme gekom.”

Walker sê dit is opwindend om vanmiddag te sien wie die meeste kilometer afgelê het. Die Nederlandse span Brunel Solar met hul voertuig, Nuna, en die Belgiese Agoria-sonkragspan met BluePoint Atlas het Donderdag onderskeidelik 3 190,2 en 3 161,2 km afgelê met die span van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) wat nie ver agter was nie.

Walker sê vir ’n span wat die heel eerste keer deelgeneem het, het die UV-span besonder goed gevaar.

Die spanne het Sondag (11/09) in Bloemfontein oornag voordat die reis na Gariepdam en uiteindelik Kaapstad aangepak is.

Die span van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) moes weens tegniese probleme in Bloemfontein aan die uitdaging onttrek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.