’n Bloemfonteiner is deel van die Mzanzi-balletgeselskap wat binnekort in die Sand du Plessis-teater te sien is.
Donavan Havenga, ’n student aan die Universiteit van die Vrystaat, vertolk ’n rol in The Gold Rhino of Mapungubwe.
“Dit is heel toevallig dat ek een van die hoofrolle in die produksie gekry het,” vertel Donavan. “Ek het voorheen gehelp met die choreografie en toe een van die rolle beskikbaar word, het hulle my gevra om dit te dans.”
Donavan het al in produksies soos die Abba en in die ballet-weergawe van Carmen gedans.
Hy help ook die ballerinas van die dans-studios in Bloemfontein wat in die Mzanzi-vertoning optree, met hul choreografie.
Daar is sowat 20 ballerinas van alle ouderdomme van Bloemfontein wat ook op die verhoog gaan wees.
The Gold Rhino of Mapungubwe is ’n vollengte ballet-opvoering met kostuums deur bekende ontwerper David Tlale en ’n stel wat deur Andrew Botha ontwerp is.
Dirk Badenhorst, wat die Mzansi-balletgeselskap in 2017 begin het, sê die opvoering is ’n samestelling van klassieke ballet, Afro-ballet en kontemporêre dans, met skeppende choreografie deur Angela Revie en insette deur Mdu Nhlapo.
Die musiek, wat ’n sleutel-element tot die sukses van die vertoning is, is gekomponeer deur Grammy-wenner Wouter Kellerman, saam met komponiste soos Mark Cheyne, SJ Khosa, dr. Cara Stacey, Matthijs van Dijk en Mpho Molikeng.
“Die ballet vertel ’n storie wat ’n brug bou tussen die mitiese, die antieke en die moderne wêreld,” sê Badenhorst.
“Dit fokus op die antieke Mapungubwe-gemeenskap en die besonderse waarde van die argeologiese ontdekking van 1931, van ’n middel-eeuse renosterbeeld wat met goud beslaan is.”
Badenhorst sê wat dié ballet-opvoering uiters toepaslik maak, is dat die verhaal deel vorm van die gr. 6-skoolsilabus.
Die opvoerings word aangebied van 27 Februarie tot 1 Maart, daagliks om 15:00, met ’n ekstra vertoning op Saterdag 1 Maart om 19:00.
Kaartjies kos R120, en blokbesprekings kan teen R80 per persoon gedoen word en is op op webtickets.co.za beskikbaar.