KovsieSport se sterre wat die afgelope drie jaar presteer het, is Dinsdag (17/05) op ’n spesiale geselligheid vereer.
Paralimpiese medaljewenner Louzanne Coetzee, gasspreker op die geleentheid, sê dit is juis omdat baie dinge weens die Covid-19-pandemie ongesiens verbygegaan het, dat dit nou belangriker as ooit is om sportsterre vir hul deursettingsvermoë te vereer.
Coetzee, wat in 2021 ’n silwer- en bronsmedalje op die Paralimpiese Spele in Tokio verower het, het atlete van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangemoedig om ander te inspireer.
Die UV het agt sportsterre vereer vir hul deelname op internasionale vlak van 2019 tot 2021.
Hulle is die netbalspelers Khanyisa Chawane (Proteas), Bianca de Wee (Suid-Afrika o.21), Sne Mdletshe (Suid-Afrika o.21, Proteas), Refiloe Nketsa (Proteas), Lefébre Rademan (Proteas), Rolene Streutker (Suid-Afrika o.21) en Chanel Vrey (Suid-Afrika o.21), asook Robert Summers – watvir Suid-Afrika in die nasionale pluimbalspan gespeel het.
Coetzee en haar gidse Claus Kempen en Estean Badenhorst het spesiale eerbewyse ontvang vir hul prestasies op die Paralimpiese Spele.
DB Prinsloo, voormalige direkteur van KovsieSport, is uiters trots op dié studente, hul afrigters en die UV se sportbestuurders.
“Om so ’n geselligheid aan te bied, het ’n mens uitblinkers nodig. Hierdie atlete word vereer vir hul harde werk deur die inperking,” het hy op die geselligheid gesê.
Chawane sê die inperking was moeilik, maar sportlui het hard bly werk.
“Dit was by tye moeilik om te oefen, maar dit was ook ’n positiewe tyd om te herbeplan, om te sien waar ek is en waar ek graag wil wees. Dan het ek daarvoor gewerk. Deur klein doelwitte tydens die inperking te stel, kon ek bly voorberei om te kom waar ek vandag is.” – Jóhann Thormählen