“Jy het nie ’n alarm nodig nie,” sê my vriend toe die konvooi luidkeels verbygaan.
Dis nogal waar.
Vroegoggend en laatmiddag op ’n vasgestelde tyd kom die ‘blou-lig-optog’ hierlangs. Ek is nie beïndruk met die alarm-idee nie.
“Hulle is vreeslik verwaand. Dink hulle beheer die hele Langenhovenpark,” antwoord ek skertsend.
“Verbeel hulle hulle is die nuwe buurtwag. Wonder of AfriForum weet hulle het kompetisie?”
Ek onderdruk ’n proeslag.
Brig. genl. Hans Hadida beheer die spulletjie geraasmakers. Hy vlieg gewoonlik breëbors vooruit en kondig die swerm – of moet ek sê ‘bende’ – se verbyvlug aan.
Hulle patrolleer en reguleer die strate van Langenhovenpark. Waar jy ook al ry, stap of draf, bemerk jy lede van die Hadida-brigade.
Hulle maak hulle oral tuis. Op gemanikuurde grasperke, huisdakke, straatligte; soms sit verspieders in boomtakke. Weet nie of hulle daar is vir bewaking of kwaaddoen nie.
In die meenthuiskompleks naby my eenheid is ’n hoë denneboom wat al menige Bloemfontein-winter deurleef het. Dié boom is die woonplek vir ’n verskeidenheid voëlspesies.
In die somermaande is dit laatmiddag ’n groot joligheid wanneer die insamelaars van die reënboog-kolonie na die boombuurt terugkeer. Dié luide samesprekings herinner my aan die Waltons – ’n Amerikaanse TV-program uit die sewentigerjare wat oor ’n gesin met sewe kinders gehandel het. Hulle het ook so gelyktydig gepraat, maar altyd mekaar verstaan.
Ek het al gewonder of hierdie reuse-boom miskien die hoofkwartier van die Hadida-brigade is. Gereelde samesprekings word hier op hoë vlak gevoer. Brig. genl. Hans beklee natuurlik die hoogste tak. Vanuit sy mik roep Hans bevele na die onderdane uit.
Dit laat my dink aan die spreekwoord: Die hoogste bome vang die meeste wind. Maar in hierdie geval maak dié in die hoogste takke die meeste lawaai.
Wanneer my dagtake afgehandel is, verlekker ek my aan ’n koppie boeretroos op die trappie van my agtertuin. Van hier kan ek ’n reuse-nes in die bokant van ’n sipresboom sien. Daarin sit ’n Hadida-wyfie gedwee en wag dat haar onder-korporaal huiswaarts keer. Die daaglikse tuiskoms laat my nadink. Wat sou hulle bespreek? Vertel hy haar van die stad se gebeure? En waaroor vra sy uit?
Talle middae is daar een of twee laatkommers ook. Hulle moes seker by ’n watergat vasgehaak het. Hulle kom stil-stil verby. Natuurlik een te veel platanna vir die pad gehad.
“Goeie genugtig! Kyk net hier!” My vriend wys na sy splinternuwe klub-kajuit-bakkie wat voor my deur staan. Hy kyk op asof hy kan sien van waar die lug-na-grond-mortier gekom het. Die kajuitdak, enjinkap en voorste lig is met wit “skrapnel-vlekke” bespat.
“Ek het dit nét gister laat was,” sê hy magteloos.
“Verdomde hadidas!” voeg ek by en probeer om nie geamuseerd te lyk nie.