Van geweer-demonstrasies tot Skotse musiek – die Anglo-Boereoorlog lééf die naweek weer

Die geskiedenis gaan die naweek lewe kry met die spesiale program wat by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied word in aanloop tot die 125 jaar-herdenking van die uitbreking van die Anglo-Boereoorlog (ABO).


Die geskiedenis gaan die naweek lewe kry met die spesiale program wat by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied word in aanloop tot die 125 jaar-herdenking van die uitbreking van die Anglo-Boereoorlog (ABO).

Die herdenking van die uitbreking van die ABO, wat van 1899 tot 1902 geduur het, sal die volgende drie jaar met spesiale geleenthede gevier word.

Lewende uitbeeldings gaan besoekers aan die herdenking by die Oorlogmuseum Saterdag ’n kykie gee in die lewe van burgers, vroue en ander tydens die Anglo-Boereoorlog. Foto: Verskaf

Vanjaar se vieringe begin Saterdag met ’n fees. Die hekke by die terrein van die Nasionale Vrouemonument open om 13:00. Aktiwiteite wat om 15:00 begin, sluit in boeresport deur die Vrystaatse Voortrekkers, ’n skattejag deur die Landsdiens-Kwaggas, ’n historiese herlewing deur die Oranje Vrijstaat Artillerie Corps (OVSAC) en die Dundee Die Hards.

Verskeie skolegroepe gaan ook optree, soos die trompoppies van Jim Fouché, Grey-kollege se waterstewel-dansers en die Con Spirito-sanggroep van die Hoër Meisieskool Oranje, met kooroptredes deur die Laerskool Universitas (Tjokkies), die Laerskool Jim Fouché se junior koor en Grey-kollege se boeremusiekorkes.

Die OVSAC en die Dundee Die Hards gaan ook ’n geweer-demonstrasie op die terrein lewer.

Besoekers kan “A night at the museum” beleef en kom luister na Skotse tradisionele musiek deur die Bloemfontein Scottish Band.

Die hoogtepunt van die dag se gebeure is die optrede deur Andriëtte Norman.

Die museum beplan verskeie projekte vir die duur van die herdenking oor drie jaar, wat onder meer publikasies, bepaalde uitstallings en spesifieke geleenthede insluit. Wat uitstallings betref, sal die fokus van die museum veral wees op die konsentrasiekampstelsel, asook buitelandse betrokkenheid gedurende die oorlog.

Die fokus rondom buitelandse betrokkenheid by die oorlog van dié grootse Suid-Afrikaanse konflik word uitgelig, asook hoe hierdie betrokkenheid steeds in verskeie wêreldlande aandag geniet. Meer as 27 nasionaliteite het in ’n militêre kapasiteit aan republikeinse kant aan die oorlog deelgeneem, terwyl mense van oor die Britse koloniale ryk weer aan Britse kant by hierdie konflik betrokke was.

Toegang kos R100, en kinders 12 jaar en jonger betaal R50. Daar is ook kosstalletjies.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.