Die dokter het gesê sy kan daarvan vergeet om haar matriekjaar in 2023 te voltooi. Haar brein moet rus.
Danika Smith, ’n oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje, was egter vasbeslote om ondanks agt breinoperasies en ses maande in ’n hospitaal in Pretoria verlede jaar steeds haar eindeksamen te skryf.
“Ek het my oë uitgehuil toe my ma my met die nuus oor my punte bel,” sê dié dapper meisie oor die oproep van haar ma, Wilma, Vrydag.
Danika en haar kêrel, Eckard Jansen van Vuuren van Pretoria, wat ook verlede jaar matriek geskryf het, is nou in Carolina, waar hulle werk om geld bymekaar te maak vir hul studie in 2025.
Danika het ’n gemiddelde van 69% in die Seniorsertifikaateksamen behaal. Dit nadat sy in 2023 net tot 16 Februarie in die skool was.
Sy het begin sleg voel, en die siektetoestand idiopatiese interskedel-hipertensie (“idiopathic intercranial hypertention”) is by haar gediagnoseer, wat meebring dat te veel vog op haar brein vorm.
Dit veroorsaak hoofpyne en braking en beïnvloed die pasiënt se balans en sig.
Sy moes verskeie breinoperasies ondergaan, waarvan die laaste groot operasie in Mei was.
“My grootste uitdaging was beslis om te leer – in die verlede het ek gaan eksamen skryf op dit wat ek in die klas gehoor het. Ek het net meer as ’n maand skoolgegaan en het baie gesukkel om te leer,” vertel sy.
Danika was siek toe die eksamen aanbreek.
“Ek het die eindeksamen van dag tot dag gevat en gerus wanneer ek moeg geraak het.”
Oor haar punte sê sy: “Ek het verwag dat ek net-net gaan deurkom, of van my vakke sou moes herhaal – wat nog van die punte kry wat ek gekry het.”
Sy sê die personeel van Oranje was “amazing” en het haar baie ondersteun en gehelp.
Danika sê dit gaan nou beter met haar en sy wil volgende jaar somatologie studeer.
- Die Vrystaat spog vanjaar ’n vyfde keer agtereenvolgens met die topplek in die matriek-uitslae in Suid-Afrika.
Boonop het vanjaar se matrieks die beste tot nog toe gevaar, met ’n slaagsyfer van 89 % tenoor die vorige jaar se 88,8 %; 2021 se 85,7 %; 2020 se 85,1 %; en 88,4 % in 2019.
Drie Bloemfonteiners spog met plekke in die toptien in die provinsie. Hulle was onder die 100 toppresteerders in die provinsie wat genooi is na Vrydag se geselligheid in die Boet Troskie-saal op die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), waar hulle deur die premier, Mxolisi Dukwana, en die LUR vir onderwys in die Vrystaat, Makalo Mohale, gelukgewens is.
Die provinsie se topleerling is Neo Mosikili van die Selelekela Secondary School in Phuthaditjhaba.
Mosikili het onderskeidings in al sy vakke en 100% in wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap en geografie behaal.
Die uitblinkers in Bloemfontein is Lara Potgieter van die Hoër Meisieskool Oranje, met nege onderskeidings; Riaz Nabeel Seedat van die St Andrew’s School, met agt onderskeidings; en Cara Stevens van die Eunice High School met agt onderskeidings. Sy het 100% in wiskunde behaal.
Izak van Heerden van die Martie du Plessis-skool is beloon as die algehele beste leerling met erge leerhindernisse in die Vrystaat.
Bloemfonteinse skole wat onder die tien topskole in wiskunde was en elk R100 000 van die departement van onderwys ontvang, is: die Hoër Meisieskool Oranje, die Eunice High School, die Hoërskool Jim Fouché en Grey-kollege.
Eunice is die skool wat die beste presteer het in wiskunde en wetenskap in die provinsie.