Die Prestige-wiskundeprysuitdeling op 25 November was weer die hoogtepunt van die jaar se olimpiade-bedrywighede.
Dit is ‘n geleentheid waar leerders wat deur die jaar in die verskillende wiskunde-olimpiades presteer het, erkenning ontvang.
Vanjaar is dié prysuitdeling ‘n 15de jaar deur drs. Elsie Schoombie en Anelize van Biljon aangebied.

Dit is die laaste jaar dat Van Biljon betrokke is, aangesien sy uittree as organiseerder. Haar plek word gevul deur Ilse Olivier, wat vanjaar reeds ‘n oorgangsrol vervul het.
Instansies wat met borgskappe en as vennote betrokke is, sluit in die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement wiskundige statistiek en aktuariële wetenskap, asook die departement rekenaarwetenskap en informatika.
Die Nautilus-projek lewer geldelike bydraes om die prysuitdeling moontlik te maak.
Die olimpiades op die wiskunde-kalender wissel van plaaslike en provinsiale olimpiades tot nasionale en internasionale olimpiades.

Alé Celliers (Universitas Pre-primêr), Nepo Moshambesha (Grey-kollege Pre-primêr), Luther Jacobs (Little Saints Preprimary), Reece Jordaan en Elzané van Zyl (albei van Klein Skooltjie); agter: Anita van Zyl, wat ‘n sertifikaat namens haar kleindogter Anlia du Toit ontvang het, en Ruzéna Maclachlan, wat die leerders met opleiding gehelp het.
Een van die mees toeganklike olimpiades vir beginners is die Living Maths-olimpiade, wat jaarliks in November gehou word. Selfs leerders in gr.R kan al daaraan deelneem, en dit bied aan hulle ‘n platform om na meer gevorderde olimpiades soos die kwartaallikse Nautilus-olimpiades te vorder.
Luther Jacobs het ‘n derde plek behaal en Anlia du Toit ‘n wenplek nasionaal.
Die Nautiluskampe behels ‘n provinsiale olimpiade wat vir Vrystaatse en Noord-Kaapseleerders van gr.3 tot gr.12 in Bloemfontein aangebied word.
As nasionale olimpiade het die South African Mathematics Challenge (SAMC) drie uitdunrondes om gr.4- tot gr.7- leerders nasionaal te sif totdat die 10 topleerders in elke graad aangewys kan word.
Die gelykwaardige weergawe hiervan vir die hoërskool is die South African Mathematics Olympiad (Samo).
Hier is ook drie uitdunrondes, sodat 10 finaliste in onderskeidelik die junior en senior afdelings aangewys word. Hulle kry silwermedaljes, en die beste kandidaat kry die gesogte goue medalje.
Al die provinsiale en nasionale olimpiades rig leerders af om hulle voor te berei vir internasionale olimpiade-deelname, waarvoor die beste kandidate gekies word.
‘n Voorbeeld hiervan is die Primary World Mathematics Contest (PWMC), wat vanjaar in Hongkong aangebied is. Die vier spanlede uit die Vrystaat en Noord-Kaap was almal in gr.7: Wen-Yu Chang (Hoërskool Ladybrand), Orion Chen (Grey-kollege),
Chibuikem Nwafor (Grey-kollege,) en Andrew Garnett (St Andrew’s School).
Die International Mathematics Competition (IMC) het ‘n afdeling vir spanne met junior deelnemers, wat uit die laerskool moet kom,
en spanne vir senior deelnemers, wat uit leerders van gr.8 tot gr.10 gekies word. Hierdie olimpiade word elke jaar in ‘n ander land aangebied; vanjaar in Danang, Viëtnam.
Om die presteerders te identifiseer wat eindelik op die Prestige-wiskunde-prysuitdeling vereer word, is nasionaal 8 leerders vir 2 junior spanne gekies, en 8 leerders vir 2 senior spanne.
Die 10 topleerders per graad van gr.7 tot gr.12 is dan bepaal, en hulle is genooi om pryse te ontvang.
Benewens die 10 topleerders wat geïdentifiseer is, en die drie topleerders wat medaljes en
geldpryse ontvang het, is trofeë toegeken, per graad, aan die leerders wat die beste vordering gedurende die jaar getoon het.
Die leerders wat oor jare volhard het met volgehoue puik prestasie in wiskunde-olimpiades, is ook met spesiale trofeë erken.
Rig navrae oor die afrigting van wiskunde deur ‘n WhatsApp-boodskap na 082 926 6674 te stuur.





You must be logged in to post a comment.