Inwoners en personeel van Engo se jeugsorgsentrum in Winburg bars van trots oor ’n leerling wat uitstekend gevaar het in die 2022-matriekeksamen.
Sam Marilele, hoofseun en ook aangewys as die Winburg Secondary School op dié dorp se dux-leerling vir 2022 met ’n gemiddeld van 85%, het ses onderskeidings in die eindeksamen behaal.
Hy was een van 50 topleerlinge wat Vrydag 20 Januarie deur die Vrystaatse departement van onderwys by ’n geselligheid by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein vereer is.
Sam het onderskeidings behaal in wiskunde (94%), lewensoriëntering (97%), rekeningkunde (91%), rekenaartoepassingstegnologie (80%), lewenswetenskap (90%) en fisiese wetenskap (91%).
Op die geselligheid het hy ’n nuwe skootrekenaar, selfoon, geskenkbewyse en ’n beurs ontvang, wat hy vir sy studies kan aanwend.
Bonang Phalo, Engo se maatskaplike werker in Winburg, sê hulle is baie in hul skik met Sam se uitstekende uitslae.
“Welgedaan Sam. Jy het gewys dat die enigste verskil tussen die onmoontlike en die moontlike in iemand se vasberadenheid lê.”
Sam beplan om medies aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer.