Nita reg vir pluimbal in Parys

Bloemfonteinse lpluimbal­kampioen Nita Scholtz-Albertse (24) is die enigste pluimbalspeler van Suid-Afrika wat einde van die maand aan die Olimpiese Spele in Parys gaan deelneem.


Bloemfonteinse pluimbal­kampioen Nita Scholtz-Albertse (24) is die enigste pluimbalspeler van Suid-Afrika wat einde van die maand aan die Olimpiese Spele in Parys gaan deelneem.

Sy is ook die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat sedert 2008 aan die enkelspel op die spele gaan deelneem. Sy hoor op Vrydag 12 Julie teen wie sy in haar eerste wedstryde, van 27 Julie af, gaan speel.

Om op die Olimpiese Spele mee te ding is al die afgelope dekade haar droom.

As dogtertjie van vier jaar oud het sy met haar ouers in Oranjemund begin pluimbal speel.

Dit was op ’n Suid-Afrikaanse kampioenskaps­byeenkoms waaraan sy as 11-jarige in Durban deelgeneem het, dat haar talent opgemerk is. Johan Kleingeld, haar plaaslike afrigter, sê sy was “net arms en bene,” maar hy het baie talent daar gesien.

“Ek het geweet hierdie meisie van Namibië kan nog tot by die Olimpiese Spele vorder,” het Kleingeld Dinsdag voor een van haar oefen­sessies by die Fichardtpark-pluimbalbaan gesê.

Scholtz-Albertse was eers in die meisieskool Eunice, en het matriek aan die Hoërskool Jim Fouché, wat vir sy sterk pluimbalkultuur bekend is, voltooi.

Sedert daardie toernooi in Durban het sy al elke Suid-Afrikaanse kampioenskap in die enkelspel in haar ouderdomsgroep gewen.

“Dit was nie maklik om vir die spele te kwalifiseer nie,” sê Scholtz-Albertse.

Sy het in 20 lande gespeel om te verseker sy kwalifiseer.

“Om vir die spele te kwalifi­seer, is net my korttermyn­doelwit,” sê sy.

“My langtermyndoelwit is om internasionaal mede­dingend te speel.”

Scholtz-Albertse, wat nou 101ste op die internasionale pluimbalranglys vir vroue is, sê sy wil alles wat sy kan leer op vanjaar se spele.

“Dit sal ’n voorreg wees om teen die topspelers in die wêreld mee te ding.”

Kleingeld sê as afrigter is dit vir hom baie belangrik dat sy na die spele gaan.

“Dit wys vir ander spelers dat dit moontlik is. Sy moet dit nou geniet, want in 2028 sal ons in alle erns meeding.”

Scholtz-Albertse sê sy sien baie uit na die ervaring van die Olimpiese Spele.

“Ek wil baie graag kyk hoe bekende sportmense deel­neem. Van die sportsoorte waarna ek graag wil gaan kyk is gimnastiek en swem,” sê sy.

Vir die volgende drie weke moet sy net fokus hou.

“Ek is fiks genoeg,” meen sy. “Nou gaan dit net daaroor om geestelik reg te wees.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.