Met die winter voor die deur beleef ons saam met die verandering in die weer en temperatuur ook klein verskuiwings in leefstyl.

Die voorliefde vir slaai word ’n lus vir sop en terwyl die waaiers vir eers weggepak word, kry verwarmers ’n plekkie en elektriese komberse hul lê.

Fisiek moet ons onself in dié maande ook anders versorg, en net die gedagte aan byvoorbeeld die droë lug hier in die binneland kan Bloemfonteiners met hul hande in hul hare laat.

Bloemnuus het by Hair by Professionals in Reitzlaan ingeloer om uit te vind hoe frustrasies wat met die winter gepaard gaan en skade aan ’n mens se hare beperk kan word.

Hou die volgende in gedagte:

Die beste kom van binne. Daardie irriterende verskynsel van hare wat nie hul lê wil kry nie en in die lug sweef, is meer as net ’n reaksie op die droë lug van buite – dit beteken dalk jou hare is nie vogtig genoeg van binne nie.

Skade kan skuil in snoesigheid. Dit is nie net direkte hitte, soos dié van stileertoerusting, wat jou hare beïnvloed nie. Die kombinasie van alles van lugversorging en verwarmers tot warmkomberse droog die lug binnenshuis nog verder uit, wat die vog uit jou hare kan stroop. Let op al die ruimtes waarin jy deur die loop van die dag beweeg wat verhit word.

Gereeld dalk te veel. Die beskermende olielaag wat jou kopvel van nature produseer om jou hare gesond te hou, neem sowat 24 uur om te vorm. As jy jou hare elke dag was, kry jou hare nie kans om hierdie beskerming te kry nie en dit kan tot vogverlies bydra. Wees ook versigtig om jou hare met te warm water te was.

Jy kan velsorg gerus kop toe vat. Terwyl ons sonder om twee keer te dink die vel van ons gesig versorg, neem ’n mens dikwels nie in ag dat die kopvel net soveel sorg verdien nie. Heelwat probleme en veltoestande kan voorkom word deur te verseker dat vog ook hier genoeg bly in wintermaande.

Daar is darem raad:

’n Verskil kan oornag gemaak word. Kies katoenkussingslope in plaas van dié van sintetiese materiaal – dit verminder die effek van statiese elektrisiteit.

Krultang en kie kan wag. Beperk die gebruik van toerusting om hare te stileer. Wanneer jy wel só maak, moet nooit vergeet om ’n beskermende produk teen hitte aan te wend nie.

Dit wat verloor word, moet jy terugkry. Gebruik opknapper wanneer jy jou hare was, en wend min of meer elke tweede keer dat jy was ook die soort opknapper aan wat ’n ruk aan die hare gelos word voordat jy dit afspoel.

’n Salon kan ietsie ekstra uitrig. As jy bekommerd is dat te veel skade al aangerig is, of dat jy nie self genoeg vog in jou hare kan terugtoor nie, kan jy na jou salon gaan vir een van die verskeie intensiewe behandelings wat beskikbaar is. ’n Vogbehandeling kan help om die invloed van meganiese hitte (van byvoorbeeld stileertoerusting) teen te werk, terwyl ’n proteïenbehandeling skade wat chemiese middels (soos haarkleur) aanrig, herstel. Daar is ook die opsie van ’n kopvelbehandeling. 

You need to be Logged In to leave a comment.