Die sukses verlede week waarin gesteelde skape Donderdag (24/03) in ’n hoewegebied by Bloemfontein gevind is en twee verdagtes in hegtenis geneem is, is ’n deurbraak vir moedelose boere.
Meer as 500 skape ter waarde van ongeveer R1 miljoen is die afgelope maande sedert September in hoewegebiede om die stad gesteel.
Lede van sektor 3 van die Navalsig-polisie se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê sedert ongeveer Augustus verlede jaar het hoewegebiede in die noord-oostelike gedeelte van die stad, tot by Maselspoort, Mockesdam en Glen, erg onder veediefstal deurgeloop.
Die Estoire-buurtwag en dié van omliggende dele soos Olive Hill en Douglas Valley, asook die Vaalbank-Zuid-buurtwagte – wat Cambleton en Roodewal insluit – is deel van hierdie GPF-sektor.
Inwoners sê skaapdiefstal het die hoogte ingeskiet, met enigiets van tien tot 40 skape wat op ’n slag gesteel word.
“Hulle doen dit op ’n hoogs georganiseerde manier,” sê ’n anonieme buurtwaglid.
Mense meld die diefstal by hul buurtwag aan, maar baie min meld dit by die Navalsig-polisie of die veediefstaleenheid aan.
“Mense merk of tatoeëer dikwels nie hul skape nie, wat dit moeilik maak om skape wat gevind word met diefstal te verbind.”
Die buurtwaglid sê skaapdiewe knip die heinings van draadkrale en breek selfs mure stukkend en jaag die skape oor groot afstande tot waar hulle onopgemerk op ’n voertuig gelaai kan word.
“Hoewel ons elke aand patrollies ry om na verdagte voertuie en bedrywighede op te let, is dit moeilik om die verdagtes op heterdaad te betrap.
“Sodra daar opgemerk word dat skape gesteel is, word die polisie in kennis gestel en hulle gee goeie samewerking en ondersoek die misdaadtonele.”
Tot nou het die diefstal van skape hoofsaaklik by Estoire en Olive Hill plaasgevind, en daar was ook twee gevalle in Cambleton.
“Selfs die veilingskrale is nie oorgesien nie. Ook 20 jong lammers wat ná ’n veiling oorgestaan het, is gesteel.”
Hy sê baie van die diefstal vind plaas op kleinhoewes waar mense nie lid van die buurtwag is nie, en hulle meld die diefstal ook eers die volgende dag aan, wat dit moeilik maak om die skuldiges te soek.
Van 1 September verlede jaar tot 3 Januarie is 300 skape in dié deel van Bloemfontein gesteel, en daar is ook enkele beeste gesteel en geslag.
“Die misdaad hier het daartoe gelei dat buurtwag-groepe met mekaar begin saamwerk om beter te beplan, patrollies te verskerp en ’n ernstige poging aan te wend om hierdie soort diefstal te beperk.”
Verlede week se sukses is ’n groot deurbraak vir die buurtwag-groepe.
Die lede sê hoewel skaapdiefstal op plase by Maselspoort en Mockesdam, asook Glen en Brandfort, ’n probleem is, is die probleem nou baie groter op plase rondom die stad.
Lt. Kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, het bevestig dat twee verdagtes in hegtenis geneem is.
Die een verdagte was die bestuurder van ’n sedan-voertuig waarvan die sitplekke uitgehaal is en die vloer vol skaapmis gelê het.
Daar was ’n bakkie vol skape waarvan die pote met draad vasgebind is. Verdagtes het van die bakkie afgespring en weggehardloop. Die ander verdagte is in hegtenis geneem op die hoewe waar van die gesteelde skape gevind is.