’n Oorblufte Jayden Leech, Grey-kollege (sekondêr) se onderkaptein, is Dinsdag aangewys as 2024 se Matrikulant van die Jaar.
Die kompetisie, wat in sy huidige vorm sedert 1997 deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Volksblad – en nou ook Netwerk24 – aangebied word, se top-14 het op Dinsdag 1 Oktober pryse van die borge ontvang.
Die wenner van die kompetisie, waarvoor toppresteerders oor die land heen wat volgende jaar by die UV wil studeer hulle kon inskryf, is ook aangekondig.
Jayden het ook die prys ontvang vir die matrikulant met die beste prestasie in sport.
“Hierdie is beslis die grootste prestasie van my lewe,” het ’n oorblufte Jayden gesê ná die aankondiging van die wenner op die spogdinee by Monte Bello buite Bloemfontein.
Hy het sy ouers, Doné en Stuart Leech, bedank – en ook die skoolhoof, Braam van Wyk, wat hom aangemoedig het om hom vir die Matrikulant van die Jaar-kompetisie in te skryf.
Jayden handhaaf ’n gemiddelde van 90% in akademie en het boonop al internasionaal uitgeblink in karate.
Hy is die afgelope drie jaar lid van Grey se eerste waterpolo- en hokkiespan en was ook die afgelope twee jaar lid van die Suid-Vrystaat-hokkiespan.
In 2022 het hy saam met ’n groep Suid-Afrikaanse karatekas sy tweede swart belt in karate verwerf, en hy het verlede jaar ’n bronsmedalje op die Europese Ope Karate-kampioenskapsbyeenkoms in Italië, waaraan 600 karatekas deelgeneem het, verwerf.
Jayden reis ook volgende jaar saam met die Suid-Afrikaanse span na die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Japan.
Van Wyk , Braam sê hy is baie trots op Jayden.
“Wat dit so spesiaal maak, is dat Jayden se pa, Stuart,, Stuart, die kaptein was van die Vrystaat-hokkiespan wat ek destyds afgerig het,” het hy Dinsdag ná die aankondiging gesê.
Karla Marais van die Hoërskool Fichardtpark is deur haar mede-finaliste as vanjaar se Vonkelpersoonlikheid aangewys.
Die ander Bloemfonteiners wat die afgelope week se beoordeling deurloop het en pryse as top-14-finaliste ontvang het, is: Ethan Burger van die Hoërskool Fichardtpark; Chris Goosen van Grey-kollege; Linda Mei en Immanuel Fumba, albei van die Hoërskool Bloemfontein; Basetsana Mofokeng van die Hoërskool Sand du Plessis; en Elseri Venter van die Hoërskool Jim Fouché.