Jaco Uys by van die kitare wat hy deur skenkings ingesamel het om kitaarlesse aan behoeftige kinders te gee.


Jaco Uys, ’n Bloemfonteiner en eienaar van die Jooba-musiekskool, het kragte saam met die Mangaung String Programme (MSP) gespan om nog een van sy drome na te jaag.

MSP het tien heeltydse musiekonderwysers wat aan ongeveer 250 studente lesse in Bloemfontein en ook in dorpe soos Welkom en Parys aanbied.

Kinders kry hierdeur al die afgelope 25 jaar verskeie geleenthede en blootstelling van musiekinstrumente en van die kinders het al in lande soos Oostenryk opgetree.

Met dit ingedagte, het Jaco besluit om met MSP se hulp sy droom na te jaag om kinders in en om Bloemfontein spesifiek kitaarlesse te gee.

Sy doelwit is om 40 kitare in te samel en dan daarmee vir behoeftige kinders les te gee.

“Ek het nog altyd die droom gehad om met busse minderbevoorregte kinders te gaan haal en vir hulle ook ’n geleentheid te gee om kitaar te leer speel. Ekself het in ’n dorp grootgeword waar daar nie iemand was wat vir my lesse kon gee nie,” sê Jaco.

Hy gee sedert sy hoërskooljare musieklesse en doen dit nou al 15 jaar waarvan die laaste 10 jaar heeltyds is. Jaco het ’n groot passie vir musiekteorie, improvisasie en komposisie. Die kitaar, banjo, baskitaar, elektriese kitaar, en tromme word lewendig in sy hande en hy sing ook graag.

Hy wil met sy projek uitreik na gebiede waar kinders nie geleenthede het om iets ekstra buite skoolverband te kan doen nie.

“Die kinders kry een keer per week ’n les en kan een van die kitare gebruik wat ek nou insamel en dit huis toe neem om mee te oefen.

“Ek wil nie net ’n kind leer kitaar speel nie, maar ek glo dit leer hulle ook selfdissipline, dit bou die kind se selfvertroue en dit is kwaliteite wat die kind in die toekoms sal help”.

Die lesse werk deur MSP wat help om skole te identifiseer. Jaco se projek het by die Laerskool Monyatsi in Rocklands begin en sal vandaar verder uitbrei.

“Sover is daar al twee keer lesse aan 26 leerlinge gegee. Dié leerlinge geniet die lesse en 15 van hulle het al kitare wat hulle ook kan huis toe neem om te oefen. Ons wil dringend vir die res ook kitare insamel en wil dan natuurlik ook die doel van 40 kitare bereik.”

Hy sê ’n mens kan klaar sien dat die kinders dit geniet en goeie vordering toon, veral omdat hulle uit gebiede kom waar daar baie gesing word.

Jaco bied lesse by die Musicon aan, maar wil eerder self na die skole gaan sodat hy meer tyd saam met die kinders kan spandeer.

“Hierdie is nie vir my net ’n vinnige projek nie, ek wil dit graag vir so lank as moontlik doen. Ek wil ook nog mense oplei wat saam met my lesse te gee. Een van my ander drome is ook dat die kinders wat ek nou leer, so goed raak dat hulle ná hul skoolloopbaan lesse aan ander kan gee”.
)
 Jaco het drie weke gelede ’n 24 uur lange kitaarles aanlyn aangebied waarmee hy R16 000 vir die projek ingesamel het. Enigeen wat ’n skenking tot die projek wil maak kan joobamusic.com besoek en volg Jaco op Youtube waar hy ook aanlyn gratis kitaarlesse laai by https://www.youtube.com/c/JoobaSchoolofMusic

You need to be Logged In to leave a comment.