Die nuwe weerstasie by Possies waarsku personeel nou betyds oor weerlig en om leerlinge na veiligheid te bring.Foto’s: Etienne Gerber


Erge weerlig en donderstorms met gepaardgaande risiko’s is nie ’n ongewone verskynsel in Bloemfontein nie. Daarom is ’n waarskuwingstelsel vir weerlig onlangs by die Laerskool Willem Postma hier opgerig.

Etienne Gerber, operasionele direkteur van Blitz Detect, wat die projek behartig het, sê die tegnologie is noodsaaklik om die kinders en publiek veilig teen weerlig te hou.

“Die stelsel tel weerlig in mikrosekondes op, deur van sensors gebruik te maak. Deur verskeie toepassings te gebruik, waarsku die stelsel dan die regte mense, wat op hulle beurt kinders na veiligheid kan bring.”

Hy sê ongelukkig kom baie ongelukke met weerlig by sportgebeurtenisse en buitelug-byeenkomste voor, veral omdat daar nog onkunde oor die risiko’s van weerlig bestaan.

Hy verduidelik die sensors verskaf die presiese ligging en data vir weerligslae. Die algoritmes help dan dat mense tot ’n uur voor die storm gewaarsku kan word. Dit meet ook in watter rigting die storm beweeg, hoe vining dit beweeg en hoe ernstig die storm is.

Gerber sê die stelsel is gesofistikeerd en tegnies, maar Blitz-Detect maak dit maklik vir Jan Alleman om dit te gebruik.

“In kort is die waarskuwingstelsel belangrike toerusting vir die bestuur van weerligrisiko’s.

“Dit is veral nodig omdat Suid-Afrika die tweede hoogste dodetal in die wêreld het wanneer dit by weerlig kom. Hoofredes hiervoor is die gebrek aan kennis, en dat mense nie gebruik maak van tegnologie om hulle te waarsku nie.”

Sakkie Matthee, waarnemende skoolhoof, sê die veiligheid van Possies is nog altyd vir die skool ’n voorkeursaak.

“Daarom het ons die geleentheid om ’n weerstasie aan te bring, met twee hande aangegryp. Ons het in die verlede al navorsing gedoen oor verskeie moontlikhede om leerlinge veilig te hou tydens oefeninge, maar hierdie opsie het uitgestaan soos ’n paal bo water.”

Hy sê dit voeg waarde toe tot die skool. Die personeel en leerlinge word gewaarsku as oefeninge gestaak moet word en hulle na veilige plekke moet beweeg.

“Nie net beskerm die stasie ons as skool nie, maar ook ander skole en kerke in ons woonbuurt.”

You need to be Logged In to leave a comment.