Die skoolvakansie bied aan viertrek-entoesiaste die geleentheid om wildernisroetes aan te durf en hul vernuf te toets. Moenie onbekende roetes alleen aanpak nie – doen dit met twee of meer voertuie sodat bestuurders mekaar kan help indien nodig.

Verantwoordelike viertrekbestuur gaan alles oor finesse. Die Arrive Alive-veldtog gee ’n paar wenke oor hoe jy jou viertrek-uitstappies meer kan geniet:

* Pak roetes aan wat binne jou vermoë is. As jy stadig ry en die beste pad soek, gee dit jou geleentheid om te reageer wanneer die terrein wissel. As jy oor rotse en stompe moete ry, help dit om ’n goeie grondvryhoogte te hê. As jou voertuig laag is, ry baie stadig. As jy oor ’n klip ry, sal die voertuig teen die klip tot stilstand kom of liggies oorskuur. As jy egter te vinnig ry, kan dit skade aan jou onderstel of enjin veroorsaak.

* Vermy verrassings deur eers te gaan kyk hoe die pad voor jou lyk as jy ’n hindernis teëkom. Kyk of daar ’n pad verby die hindernisse strek en of die pad nie dalk teen ’n afgrond eindig nie. Jy kan ’n goeie idee kry hoe om die moeilike deel van die roete te benader as jy die roete eers te voet bestudeer het. Onthou om ook verby die hindernis te gaan kyk hoe die pad verder lyk.

* Weet wat die buffer-tot-wiel-afstand van jou voertuig is. Gaan stadig teen ’n afgrond af en hou die bande in die spore. Bly konsentreer op waar jy moet bestuur. As die wiele liggies begin glip en die voertuig van die roete laat afrol, hou stil. As die pad na onder oop is en die voertuig begin gly, draai die voertuig om saam met die momentum af te beweeg.

* Een van die belangrikste aspekte van vierwielry is om banddruk te verstaan. As jy sandpaaie gaan pak, vind uit wat die beste banddruk vir jou voertuig gaan wees. Dit sal afhang van dinge soos hoe jou bande gemaak is, wat die voertuig weeg en hoe swaar die voertuig gelaai is.

* Ry skuins deur slote sodat een wiel op ’n slag deur die hindernis ry. Dit gebeur soms dat een wiel of meer in die lug beland as jy deur so ’n hindernis ry. Wees versigtig as dit gebeur. Onthou ook dat stompe kan opwip en die voertuig se onderstel kan beskadig – ry dus baie stadig oor sulke hindernisse.

Ken jou voertuig se sterkpunte en swakpunte en hou dit in gedagte wanneer jy ’n roete pak. Vind soveel moontlik uit oor die roete.

Geniet die natuur en kom veilig terug.

You need to be Logged In to leave a comment.