Veldbrand by Thaba Nchu rig groot skade aan

Sowat 50% van die weiveld in die Maria Moroko-reservaat by Thaba Nchu, is in ’n veldbrand wat sedert Sondag (20/08) daar gewoed het, vernietig.


Sowat 50% van die weiveld in die Maria Moroko-reservaat by Thaba Nchu, is in ’n veldbrand wat sedert Sondag (20/08) daar gewoed het, vernietig.

Johann Breytenbach van die Mangaung Fire Protection Association (Mafpa) sê waarskynlik meer as 10 000 ha se veld het afgebrand.

Hy sê die brand het Sondag net suid van Botshabelo begin. “Ondanks die pogings van die Mafpa, het die brand bly versprei weens weerstoestande en die moeilike terrein.”

Hy sê twee spanne van Working on Fire (WoF) het Maandag tot laat gewerk om die brand onder beheer te kry.

“Die brand het bly versprei en Maandagmiddag die suidelike grens van die reservaat bereik. Dit het verder versprei en ook oor kleinboere, opkomende boere en kommersiële boere se plase voortgewoed.”

Hy sê die span van die provinsiale veldbrandbestuursplan was ook teenwoordig en het ’n koördineringspunt beman.

’n Helikopter van die Oos-Kaap is ook gestuur om met die operasie te help.

Drie WoF-spanne in vyf voertuie het gewerk om die brand uiteindelik onder beheer te bring.

Breytenbach sê hulle sal vanoggend vasstel of hulle kan afstaan van die toneel.

Die Bloemfonteinse Weerdiens het gewaarsku dat gevaarlike toestande vir veldbrande nog tot Sondag (27/08) voorspel word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.