Op die vergadering is van links ds. Jannie Smith (voorsitter van die raad), Rethabile Lenkoe (maatskaplike werker by Aurora), Marietjie Landsberg (direk­teur van Aurora) en Lizelle Jacobs (spreker). Foto: Lientjie Mentz


Mense wys baie maklik vinger as ander foute maak.

“Vanjaar vra ons vir mense om opbouende woorde te skryf en ’n helpende hand uit te reik.”

So verduidelik Marietjie Landsman, direkteur van die Aurora Alkohol en Dwelm­sentrum, vanjaar se #KickYourHabit-veldtog wat van Maandag (26/06) tot 30 Junie plaasvind.

Tydens Aurora se algemene jaarvergadering op Woensdag 14 Junie is vanjaar se veldtog wat mense bewus maak van afhanklikes se stryd met alkohol- en dwelmmisbruik, bekend gestel.

Een van die ondersteuners wat uit persoonlike ervaring groot lof vir Aurora se werk het, is Bloemfonteinse sakeman Rudi Maartens.

Hy vertel hy het sy lewe lank ’n stryd met drankmisbruik gevoer.

“Ek het ’n familiegeskiedenis van drankmisbruik. Van studentedae af het ek baie gedrink, maar dit het nie my studies beïnvloed nie.

“Later jare het dit gewissel. In goeie tye was dit nie so ’n groot probleem nie, maar wanneer dinge sleg gegaan het, was alkohol ’n uitkoms.”

Hy het uit sy eie in ’n stadium vir 18 maande opgehou drink.

“Dit was ’n baie slegte tyd vir my. Ek het weer begin drink en mettertyd kon ek nie meer funksioneer as ek nie gedrink het nie.

“Alles het egter in duie gestort toe dinge te erg raak en my familie my by Aurora gaan aflaai het.”

Dit was vier jaar gelede.

“Die drie weke in Aurora was ’n crash course. Die gedagte dat ek daarna moes teruggaan en die lewe voortsit, was nogal vreesaanjaend.”

Vandag is hy dankbaar oor dit wat hy geleer het.

“Jy moet aanvaar dat jy nie beheer oor jou lewe het nie. Mense het hierdie onnatuurlike beeld van die perfekte lewe en daar is baie druk uit die samelewing om dit na te jaag. Alles kan egter in ’n oogwink verander.”

Maartens sê hy het niks teen alkohol nie, maar is beslis baie meer bewus en sensitief vir die gevare.

Landsman verduidelik #KickYourHabit is ’n nasionale veldtog deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad teen Alkoholisme en Dwelmafhaklikheid (Sanca).

“Reik vanjaar jou hand uit na mense wat daagliks hard werk om sober te bly en om nie terug te val in hul negatiewe gewoontes nie. Skryf ’n motiveringsboodskap op jou handpalm, neem ’n foto en plaas dit op jou en Aurora se sosialemediaplatforms met #KickYourHabit2023.

“Die veldtog fokus daarop om op ’n baie eenvoudige manier te wys dat daar mense is wat glo dat verandering kan plaasvind en dat ’n mens nooit moet ophou hoop nie,” sê Landsman.

Dit was ’n baie slegte tyd vir my. Ek het weer begin drink en mettertyd kon ek nie meer funksioneer as ek nie gedrink het nie.

– Rudi Maartens

You need to be Logged In to leave a comment.