’n Veewagter van Lesotho het Saterdag kilometers gehardloop om ’n erg beseerde vlieënier te help nadat die vliegtuig waarin hy was naby die Bram Fischer Internasionale Lughawe in Bloemfontein neergestort en in vlamme uitgebars het.
Terwyl Valentinos Moeketsi (38), ’n veewagter in die stad en veeboer in Maseru, hom gehaas het na die ongelukstoneel, sowat 2 km van waar hy in die veld was, het hy alles met sy selfoon afgeneem. Moeketsi het Evan Burger (24), ’n vlieënier van Mosselbaai, op sy hurke in die veld gekry, hom op sy rug getel en na veiligheid gedra.
Burger is in ’n stabiele toestand in die hoësorgeenheid van die Busamed-hospitaal naby die lughawe nadat hy ernstige brandwonde en ’n fraktuur aan sy voet opgedoen het. Hy en Afnan Fiaz (22) was in die Beechcraft Sundowner-vliegtuig toe dit Saterdag naby die lughawe neergestort het. Fiaz is in die vliegongeluk dood. Hy was van Pakistan en het in die Verenigde Arabiese Emirate gewoon. Hulle was na verneem word vir opleiding in die stad.
Moeketsi sê hy het om 09:20 die vliegtuig sien val en begin hardloop toe hy die vlamme sien. Op die ongelukstoneel het hy Burger op sy rug getel en hom van die brandende wrak na veiligheid gedra.
“Ek is terug na die wrak, maar kon nie die ander man red nie.”
Moeketsi sê hy is op pad na die hospitaal om te kyk of Burger oukei is.
Burger het uit sy hospitaalbed gesê hy is dankbaar dat Moeketsi daarheen gehardloop en hom gesien het.
“Hy het met krag en moeite probeer om my weg van die naderende vlamme te kry.”
Sy familie het Moeketsi Dinsdag op die ongelukstoneel ontmoet en hom vir sy onbaatsugtige daad bedank. Hybrie Meyer, Burger se ma, sê hulle is hartseer weens die lewensverlies en dat dit ’n wonderwerk is dat hul seun oorleef het.
“Uit die diepte van ons harte, dankie, mnr. Moeketsi, vir jou onbaatsugtige daad.”
Die ongeluk word deur die burgerlugvaartowerheid ondersoek.