Kom kuier saam by De Oude Kraal se WildsKOSfees op 7 Junie.

Sonder die sowat 100 vrywilligers is dit nie moontlik om jaarliks De Oude Kraal se WildsKOSfees aan te bied nie.

Só sê Marie Lombard, sjef en mede-eienaar van De Oude Kraal, oor dié fees wat vanjaar op Saterdag 7 Junie ‘n 25ste keer aangebied word.

“Die helpers is onmisbaar. Hulle braai en bedien die kos by die stalletjies waar sowat 16 wildspesies bedien word,” sê Lombard.

“Hulle is ‘n toegewyde groep mense wat die hele dag gratis werk om ons te help dat alles glad verloop.”

Ian Palmer, een van dié wat al agt keer ‘n stalletjie help beman het, sê dit is vir hom heerlik om te help.

“Dit is vir ons ‘n kuier-geleentheid so terwyl ons braai,” vertel hy.

Een van die vrywilligers, Ian Palmer, met van die voorskote van De Oude Kraal se vorige WildsKOSfeeste. Hy gaan vanjaar weer help om een van die stalletjies te beman. Foto: Lientjie Mentz

Al die vrywilligers kry elke jaar ‘n voorskoot, en Palmer spog met agt van hulle wat steeds flink diens doen by sy eie braaiplek.

“Ek het al ‘n hele paar keer gehelp by die stalletjie waar die swartwildebees bedien word. Dit is die naaste aan beesvleis, so mense word redelik maklik oorreed om dit te proe.

“Ons braai gewoonlik vyf verskillende vleissnitte wat vooraf deur Marie en haar span voorberei is, asook wors.”

Dit is ook nie net sommer van braai nie.

“Jy moet wildsvleis reg braai sodat dit sag en smaaklik is.”

Hy sê hy keer elke jaar terug omdat dit so ‘n lekker vriendelike atmosfeer is, en jy iets anders kan proe wat jou horisonne verbreed.

Sjef Patso Nikolov gesels met gaste by die BBP-ete op verlede jaar se De Oude Kraal WildsKOSfees. Foto: Verskaf

Lombard sê die vrywilligers se passie vir die fees en hul gemeenskap maak van die Wildskosfees ‘n sukses.

“Ons waardeer elkeen se bydrae baie en kan nie wag om hulle te verwelkom vir ‘n fantastiese feesdag nie.”

Benewens die vrywilligers wat op die dag help, het ‘n wynproespan saam met Lombard en Melanie Moolman ‘n fyn uitgewerkte spyskaart beplan wat wildsgeregte met die perfekte wyn kombineer.

Elke wynstalletjie sal spesifiek gepaard gaan met ‘n bykos.

Vir diegene wat op soek is na die volle ervaring, sal ‘n BBP-middagete beskikbaar wees.

Hierdie luukse middagete sal saam met spesiaal uitgesoekte wyn bedien word.

Kom geniet ‘n fees van wyn, kos en lekker kuier by vanjaar se De Oude Kraal WildsKOSfees.

Vanjaar sal daar ook busse beskikbaar wees wat gaste van Bloemfontein tot by De Oude Kraal en terug sal vervoer.

Benewens die voorste wyn wat bedien gaan word en die verskeidenheid wildsgeregte, word verskeie aktiwiteite vir besoekers van alle ouderdomme gebied.

Besoekers kan uitsien na gholfwenke van Hendrik Buhrmann; skietgeleenthede, soos .22-skiet en kleiduifskiet; en perdry, of ‘n trekkerrit.

Waaghalse kan selfs hul hand aan die gewilde koedoekuttelspoeg-kompetisie probeer.

Kaartjies kos R595 of R1500 vir die BBP-ete en is beskikbaar op De Oude Kraal se webtuiste, deoudekraal.com, asook by Delta-drankwinkel in Westdene, Crazy Daisy in Fleurdal Mall en Daisy & Co in Prellerplein. Rig navrae by 071 679 6596.

■ Een leser staan die kans om twee kaartjies vir vanjaar se De Oude Kraal WildsKOSfees te wen.

Besoek BloemNuus se Facebookblad, like en share die inskrywing en tag twee vriende om in te skryf om die kans te staan om te wen.

Die wenner word op Maandag 2 Junie op BloemNuus se Facebook-blad aangekondig.

You need to be Logged In to leave a comment.