Vele klagtes oor ‘misdadigers in huis’

’n Huis in die misdaadgeteisterde Universitas-woonbuurt wat aan die staat behoort en al jare lank leeg staan, huisves misdadigers wat by ander huise in die omgewing inbreek, sê ontstoke inwoners.


’n Huis in die misdaadgeteisterde Universitas-woonbuurt wat aan die staat behoort en al jare lank leeg staan, huisves misdadigers wat by ander huise in die omgewing inbreek, sê ontstoke inwoners.

Die huis by Pres. Paul Kruger-laan 296, op die hoek waar Jock Meiring-straat begin, staan al geruime tyd leeg nadat ’n polisiehoë glo eers hier gewoon het.

Na verneem word, behoort die huis aan die Vrystaatse departement van openbare werke, maar bevestiging hiervoor kon nog nie verkry word nie.

Frikkie Eisenberg, veiligheidshoof van sektor 3 (Universitas) van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ondervoorsitter van die Universitas-woonbuurtvereniging (UWV), sê daar bly ’n klomp misdadigers in die huis wat naby die Eunice High School geleë is.

Die skool het glo ook ’n beswaar teen die omstandighede wat die huis skep en het al briewe daaroor geskryf, sê hy.

“Die huis skep ’n probleem vir al die inwoners van Universitas, asook die skool, vir wie dit ’n veiligheidsrisiko inhou.”

Hy sê die DA en die GPF het al klagte by die polisie ingedien.

“Daar is ook ander bouvalle in Universitas. Wanneer ons hulle vra om die persele op te ruim, wys almal vinger na die staatshuis waarin misdadigers bly en waaraan niks gedoen word nie.”

Eisenberg sê dié huis, soos talle ander, ontsier die woonbuurt.

“Daar is ’n klomp studentehuise wat ’n verhuringsforum in Universitas gestig het. Dié forum gaan van Julie af R350 per maand, per huis, aan die UWV betaal. Daarmee gaan bykomende veiligheidskameras opgerig word, parke in stand gehou word en vullisverwyderingsdienste gehuur word om die woonbuurt skoon te hou.”

Eisenberg sê die forum het reeds geld geskenk vir die verf van padmerke in Universitas.

“Oor die 400 studentehuise het hulle al by die forum aangesluit,” sê hy.

Manie de Klerk, takvoorsitter van AfriForum wat ook in beheer is van gemeenskapsveiligheid in woonbuurte soos Parkwes, Universitas, Universitas-Rif, Gardeniapark en Wilgehof, sê dit gebeur nie net by die huis in Pres. Paul Kruger-laan dat haweloses daar gaan woon nie, maar ook in die ander woonbuurte in sy gebied waar huise leeg staan.

“Rondlopers gaan bly in die leë huise en steel koperkabels, krane en elektriese bedrading uit die huise – en breek by ander huise in. Dit is die modus operandi oor die stad heen.”

Hy sê sover hy weet, is dit al jare dat die staatshuis in Pres. Paul Kruger-laan leeg staan.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid van die Mangaung-metro, sê die huis behoort aan die nasionale regering en dit word deur die departement van openbare werke beheer.

“Ons is al die afgelope vyf of ses jaar besig met dié huis.”

Hy sê hy het verlede week ’n brief aan die DA se LP’s in Kaapstad gestuur wat hulle aanmoedig om navraag by die departement te doen oor ’n versoek omtrent die huis wat vroeër gerig is.

Dit behels die vordering met die grondgebruik-aansoek om die polisie toe te laat om die huis in kantore te omskep.

Van der Walt sê haweloses het sowat twee weke gelede binne die huis vuur gemaak, waarna sekuriteitsdienste die polisie ontbied het.

Die polisie het die volgende dag ’n aantal mense uit die huis verwyder.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.