Rina Els tydens die opening van haar eenvrou-uitstalling Woensdag in Bloemfontein.

Op die ouderdom van 77 jaar maak sy weer kuns soos ‘n kind van sewe.

So gesels Rina Els van Excelsior oor haar eenvrou-uitstalling Embrio wat Woensdag 16 Julie in die Du Monyè-kunsgalery in Bloemfontein geopen het.

“Ek het my lewe lank geskilder, maar daar het nou vir my ‘n nuwe era aangebreek. Ek het altyd geglo aan realisme, maar nou vind ek vrede om soos ‘n kind uiting aan my kreatiwiteit te gee.”

Rina Els, Daniel Ellis en Sonja van Wyk by twee van Rina se skilderye wat van Woensdag af by Daniel se galery gesien sal kan word. Foto: Lientjie Mentz

Sy werk die laaste vyf jaar aan skilderye wat sy vir die uitstalling, wat van 16 tot 23 Julie in die galery te sien gaan wees. Dit bestaan uit 81 skilderye van alle grotes in ‘n mengsel van mediums.

“Ek verf en hou aan tot ek vrede het dat iets klaar is,” sê sy oor die kunswerke in die uitstalling.

“Met hierdie uitstalling wil ek liefde en kuns vier.”

Sonja van Wyk, jarelange vriendin van Rina, beskryf die uitstalling so:

In die donkerte van ‘n ongesiene ruimte, nog voor lig ‘n naam dra, begin ‘n klein vonkie lewe te klop. ’n Embrio – nie net van vlees nie, maar van idee. Stil en stadig, begin dit vorm aanneem: nie met woorde nie, maar met moontlikhede.

Rina Els van Excelsior se kunswerke kan nou besigtig word in die Du Monyè-kunsgalery in Kenneth Kaundaweg. FOTO: Lientjie Mentz

Elke sel ’n stukkie droom. Elke klop van sy hart, ’n polsslag van skepping. Dit weet nog nie wat dit is nie – of dit ’n mens, ’n gedig, of ’n skildery sal wees. Maar dit groei. Dit draai en vou om homself, trek lyne in die niks – en daardie lyne begin lyk na kuns.

In ‘n wêreld waar die meeste dinge reeds ‘n naam het, bly hierdie embrio naamloos. Dit is die kern van potensiaal. In die stilte waaruit dit kom, is daar geen reëls nie. Net ruimte. En liefde. En die verlange om gesien te word.

Wanneer die tyd reg is, word dit gebore – nie met ‘n gil nie, maar met ‘n kwashaal. Op doek. Op klei. In lig en skadu. ‘n Kunstenaar se hand bring dit na vore, maar dit is die embrio self wat die pad gelei het.

Die kunswerk staan dan daar, soos ’n nuwe kind – vreemd, rou, lewendig. Mense kyk daarna en sien verskillende dinge, maar almal voel daardie eerste klop – daardie sug van begin.

Want elke kunswerk is, in sy wese, ’n herinnering aan daardie eerste vorming: die embrio van iets wat nog nie bestaan het nie, maar so graag wou.

Die Du Monyè-kunsgalery is in Kenneth Kaundarylaan 13 C. Toegang is gratis. Rig navrae by 082 893 7694 of stuur ‘n e-pos na gallery@dumonye.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.