Die samewerking wat distrikskommissaris genl. maj Arthur Adams van die Mangaung-polisie in Junie aan private veiligheidsondernemings beloof het, lyk of dit reeds vrugte afwerp.
Reaksielede van die AfriForum Wilgehof-buurtwag, VR-Sekuriteit, AfriForum911, Fidelity ADT en GPF sektor 3 het Dinsdag ondersoek ingestel ná ’n boodskap op ’n noodgroep van ’n onwettige struktuur met vier inwoners in Wilgehof langs die Laerskool Wilgehof.
Lede van die Parkweg-polisiekantoor se misdaadvoorkomingseenheid en AfriForum Wilgehof-buurtwag Sektor3 het Woensdag (05/07) met die hulp van Fidelity ADT ’n gesamentlike operasie uitgevoer om die onwettige inwoners op te spoor. Vier verdagtes is in die skuiling in die stuk veld op die hoek van Roselaan en Daniel van Niekerkstraat gevind.
Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum in Bloemfontein, sê wapens, dwelmpype en vermoedelik gesteelde goedere is ook op die toneel gevind.
“Die polisie het die vier onwettige inwoners geneem vir ondervraging en daar is vasgestel dat twee met misdaad verbind kan word.”
Daar is ’n lasbrief vir een verdagte uitgereik en hy is in hegtenis geneem om vandag in die Bloemfonteinse landdroshof te verskyn.
Groenewald sê hulle het groot lof vir die polisielede van Parkweg se goeie werk om ’n suksesvolle operasie moontlik te maak.
“Operasies soos hierdie maak ons hande sterker om die omgewing veiliger te maak,” sê Groenewald.
Parkweg-polisie stel verdere ondersoek in na die voorval.