Verdagtes in motordiefstalsaak en hondevergiftigings verskyn weer Donderdag in Bloemfontein-hof

Voertuie van private veiligheidsondernemings op die perseel in Fase 10 waar ’n verdagte Woensdag tydens die vroeë oggendure in hegtenis geneem is.Foto: Verskaf


Die twee verdagtes wat gister in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn het op verskillende klagte nadat honde vergiftig is en motorfietse in die stad gesteel is, sal weer op 7 November in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen.

Joseph Hlongwane (44) en Themba David Mabena (39) is die week op twee aande agtereenvolgens in hegtenis geneem danksy die samewerking van private veiligheidsondernemings en die polisie.

Voertuie van private veiligheidsondernemings op die perseel in Fase 10 waar ’n verdagte Woensdag tydens die vroeë oggendure in hegtenis geneem is.Foto: Verskaf

Hlongwane is Dinsdag om ongeveer 01:00 deur Tiaan Snyman van Senforce aangekeer nadat hy die verdagte in Kommandant Erweestraat in Wilgehof gewaar het waar Snyman gepatrolleer het. Dit is nie ver van ’n woning in Montgomerystraat waar twee motorfietse in September gesteel is en twee honde dood is nadat hulle vergiftig is.

Snyman het bystand gevra en die polisie se blitspatrollie en Parkweg-polisie, sowel as ander veiligheidsondernemings het na die toneel gehaas. Hlongwane is in hegtenis geneem nadat daar op ’n kringtelevisie-kamera gesien is hoe hy vroeër vir honde in ’n erf polonie gevoer het, voordat hy na bewering ’n motorfiets gesteel het. Hy is aangekla van die diefstal van ’n motorfiets.

Sy in hegtenisneming het gelei na Fase 10 in Bloemspruit en die in hegtenisneming van Mabena Woensdag net ná middernag met behulp van die blitspatrollie, Senforce, Tracker en die Fichardtpark Woonbuurtvereniging..

Volgens die polisie is ’n Hyosung-motorfiets wat op 22 Oktober gesteel is, sowel as ’n Honda-motorfiets wat op 23 Oktober in Universitas gesteel is, op die toneel gevind.

Mabena is aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Kapt. Loraine Earle sê die moontlikheid dat die verdagtes met nog soortgelyke sake verbind kan word, is nie uitgesluit nie.

Die Bloemfonteinse Voertuigdiefstaleenheid ondersoek die saak.

You need to be Logged In to leave a comment.