Verdryf muskiete, verhoed malaria dié somervakansie

Malaria is een aspek wat ’n sonnige somervakansie in ’n onaangenaamheid kan laat ontaard.


Malaria is een aspek wat ’n sonnige somervakansie in ’n onaangenaamheid kan laat ontaard.

Dié lewensbedreigende maar voorkombare en behandelbare siekte word deur die Anopheles-wyfiemuskiet oorgedra wat met die Plasmodium-parasiet besmet is.

Tref voorsorg, veral hier
Vakansiegangers wat veral Limpopo, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en aangrensende buurlande soos Botswana en Mosambiek besoek, moet voorsorg teen malaria tref.

Persone in ander dele van die land wat tipiese malaria-simptome ervaar, moet hulle vir malaria laat toets omdat dit bekend is dat muskiete “saamrygeleenthede” gebruik en is malaria wel al aangemeld in nie-malariagebiede en deur persone wat nie malariagebiede besoek het nie.

Malaria, wat lewensgevaarlik vir die mens kan wees, word deur muskiete versprei.

Volgens ’n onlangse verslag van die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) is daar in 2022 ’n geraamde 249 miljoen gevalle van malaria oor die wêreld heen aangemeld. Dit is 16 miljoen gevalle meer as in 2019.

In dié nuutste WGO-verslag is die verband tussen klimaatsverandering en die hoër voorkoms van malaria ook bestudeer. Daar is bevind dat uiterste weerstoestande, soos hittegolwe en oorstromings ’n direkte invloed op die verspreiding van malaria het. In Pakistan, byvoorbeeld, het die katastrofiese oorstromings in 2022 tot ’n vyfvoudige toename in malaria gelei.

Die woord “malaria” kom uit die 18de eeu en is ’n samevoeging van die woorde “mala aria” wat “bad air” beteken. In dié tydperk is geglo dat die siekte veroorsaak is deur die inaseming van die lug in moerasagtige gebiede, waar muskiete natuurlik gedy het.

Waarom is malaria gevaarlik?

Wanneer malaria nie behandel word nie, kan dit tot lewenslange komplikasies lei, of selfs tot sterftes.

Malaria-sterftes hou gewoonlik verband met een of meer ernstige komplikasies, insluitend:

  • Serebrale malaria – parasiet-gevulde bloedselle blokkeer die klein bloedvate na die brein en veroorsaak serebrale malaria waar swelling van die brein en selfs breinskade kan voorkom. Serebrale malaria kan epileptiese toevalle of ’n koma veroorsaak.
  • Asemhalingsprobleme – opgehoopte vloeistof in die longe (pulmonêre edeem) maak dit moeilik om asem te haal.
  • Orgaanversaking – Malaria kan die niere of lewer beskadig of die milt laat skeur. Enige van hierdie toestande kan lewensgevaarlik wees.
  • Bloedarmoede – Malaria kan daartoe lei dat daar nie genoeg rooibloedselle is vir ‘n voldoende toevoer van suurstof na die liggaam se weefsels nie.
  • Lae bloedsuiker – Ernstige vorme van malaria kan baie lae bloedsuiker veroorsaak. Kinien, ’n algemene medikasie wat gebruik word om malaria te behandel, kan ook tot lae bloedsuiker lei. Baie lae bloedsuiker kan tot ’n koma of die dood lei.

Sekere soorte malaria keer terug met ’n “relapse”.

Wat is die simptome?

Besoekers aan malariagebiede wat binne tien dae ná die gebied besoek is, simptome soos kopseer, koors, diarree, koue rillings, en spier- en gewrigspyn ontwikkel, moet ’n dokter of kliniek besoek om deur middel van ’n bloedtoets vir malaria getoets te word.

Indien dié toets positief is, moet behandeling dadelik begin word. Een van die faktore wat tot sterftes weens malaria bydra, is dat die behandeling te laat begin word. Omdat baie van die simptome met dié van verkoue of griep ooreenstem, dink mense in baie gevalle dat dit net ’n “somerverkoue” is wat sal verbygaan.

Malaria is nie aansteeklik van persoon tot persoon, soos verkoue of griep nie.

Muskietnette is ’n eenvoudige dog treffende manier om jouself teen muskiete te beskerm.

Hoe voorkom ek malaria?

Die beste voorkoming teen malaria is om nié deur ’n muskiet gesteek te word nie, of om jou blootstelling aan dié bloedlustige insekte tot die minimum te beperk.

  • Muskiete word veral gelok deur dele van die vel waar die are redelik vlak is of die vel dun is, soos polse, enkels, die nek en die waai van die been. Trek verkieslik langpyp- en langmouklere van sononder tot sonop aan. Dit is die tyd wanneer muskiete die aktiefste is. Toe skoene met kouse help verhoed dat muskiete die enkels bykom.
  • Gebruik aanspuit- of aansmeermiddels om muskiete te verdryf.
  • Bly sover moontlik snags binnenshuis. Maak gebruik van ’n muskietnet in jou kamer; of van muskietbranders wat muskiete verdryf.
  • Wanneer jy wel in die aande buite kuier, hou die vertrek waar jy gaan slaap se vensters en deur toe, en skakel die lig af. Muskietgaas voor vensters en deure is die ideaal, maar nie altyd beskikbaar nie.
  • Muskiete hou nie van wind nie, want hulle kan nie daarin vlieg nie. Waaiers in slaapkamers of kuiervertrekke hou muskiete uit.
  • Neem voorkomende medikasie teen malaria. Praat met jou dokter of apteker hieroor aangesien van die voorkomende medikasie newe-effekte kan veroorsaak wanneer dit saam met sekere ander chroniese medikasie gebruik word.

Twee inentings teen malaria is onlangs deur die WGO goedgekeur, hoewel dit nog nie algemeen in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

– Bronne: WGO-verslag; Medipost Pharmacy; “Muskiete: Klein en fyn, maar dodelik” – Dr. André Pretorius, Rapport, 19 Februarie 2023; mayoclinic.org; Oxford Dictionary

Muskietbranders soos dié, of die elektroniese weergawe, help om muskiete te verdryf.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.