Ná volgehoue druk word die brug by die Vereeniging-verlengpad vandag na verwagting uiteindelik oopgemaak.
In kommunikasie Donderdag (11/05) uitgereik deur die Mangaung-metro se kommunikasie-afdeling, gaan die waarnemende uitvoerende burgemeester, Gregory Ntatisi, vandag (12/05) om 13:00 amptelik die nuwe pad oopmaak.
Die verlengde Vereeniging-rylaan oor die nuwe brug is belangrik omdat dit die suidelike woonbuurte met Memoriamweg en Oliver Tambo-weg verbind.
Dave Mc Kay, DA-raadslid van wyk 18, sê hy is dankbaar dat die nuwe burgemeester skynbaar sy voorganger se onverskilligheid en selfsugtige houding teregwys.
“Ek is versigtig optimisties om te sê dat sy aksies positief is in ’n poging om die metro se dienslewering weer op koers te kry.”
Mc Kay het ’n vorige versoekskrif met 2 000 handtekeninge om die roete oop te maak, weer op Woensdag 3 Mei aan Nthatisi oorhandig.
In die verlede was daar talle leë beloftes van die metro dat die roete waarop daar in Mei 2021 begin is, oop te maak.
Vroeg verlede jaar met pres. Cyril Ramaphosa se besoek aan die stad en spesifiek die brug, is daar reeds beloftes gemaak dat die roete binnekort oopgemaak sou word.
Daarna moes Centlec nog werk op die brug voltooi.
Die projek behels ’n nuwe dubbelweg oor die spoorlyn en nuwe aansluitings na die Ferreirapad onder die brug deur.
Die roete oor die brug wat die suide met OR Tamboweg verbind, is 2,1 km lank.